Standerton se Alna en Carien keer terug van volgepakte program by Maleisiese konferensie
Die aap kan nie nou uit die mou gelaat word nie, omdat die wenners amptelik by die Augustus-kongres op Secunda bekendgemaak sal word.
Twee VLU-vroue het Mpumalanga onlangs by die Wêreldbond van Plattelandse Vroue konferensie in Maleisië verteenwoordig.
Altesaam 101 lande uit 108 geaffilieerde lande het afgevaardigdes gestuur.
Mpumalanga het vyf afgevaardigdes gehad met ‘n lid van Heidelberg en een van Grootvlei se VLU-tak, Magdie de Kock, die wêreld president.
Alna Kapp, president van VLU Mpumalanga en Carien Schabort, Tambukistreekvoorsitter het onderhoudend gesels oor dié oorsese reis, wat ’n besoek aan Singapoer ingesluit het.
Albei is van VLU Platrandtak en Tambukistreek. Dié streek sluit dorpe in soos Amersfoort, Ermelo, Piet Retief, Volksrust en Wakkerstroom waar hulle hul gewig ingooi.
Die voertaal van Engels het albei deurgaans in staat gestel om oor die weg te kom, hoewel ’n provinsiale hospitaal uitdagings opgelewer het.
Carien het ’n punt daarvan gemaak om in albei lande die basiese woorde van hallo, asseblief, hoe gaan dit en dankie baas te raak, waarmee met glimlagte by die stalletjies begroet is.
Hulle was sowat vyf dae in Singapoer en daarna vyf dae in Kuala Lumpur. Hulle het tuisgegaan in hotelle voor die konferensie in Putrayaja begin het.
“Die hele organisasie herstruktureer tans,” aldus Alna.
“Die gevolge van Covid-19 het ’n invloed op die werksaamhede gehad en daar word gepoog om sake beter te laat vloei.”
Koningin Azizah van Maleisië se seun Prins Regent Pahang Hassanal, het tydens sy openingtoespraak die kwessie van aardverwarming, wat hoë prioriteit in Maleisië geniet, beklemtoon.
Die vroue het oor ’n tydperk van agt dae ’n oggend- en middagsessie bygewoon en ook kulturele uitstappies meegemaak.
Carien se keuse het op pottebakkery geval en Alna het aan die weefwerk deelgeneem . Konferensiegangers het ook deelgeneem aan die metaalwerk-, batik-of mandjievlegwerk.
Die konferensie was daagliks op nasionale televisie uitgesaai.
Tydens die galadinee was hulle soos adel behandel nadat die koningin opdrag gegee het dat die verkeer gesluit word vir die sewe busse met 500 gaste. Hulle het na die Goue Paleis te vertrek met loeiende sirenes en flitsende ligte as die koningin se eregaste.
“Dit was ’n belewenis om met polisiebegeleiding by die paleis aan te kom,” het Alna bygevoeg.
“Die paleis is goud op goud op goud,” het Carien woorde probeer vind vir dié weelde. ’n Mens het nie genoeg oë om alles in te neem nie,” het Alna vertel.
“’n Mens se geheue sal nie al die fyn detail kan onthou nie en ons het honderde foto’s geneem.”
Die Wêreldbond van Plattelandse Vroue het ‘n kompetisie van stapel gestuur vir skinkbordlappe en skoensakke waaraan VLU-vroue kon deelneem.

Meer as 200 inskrywings is ontvang vanuit VLU Mpumalanga, wat almal saamgeneem is.
“Elke inskrywing het ’n nommer gekry en die wenners was bepaal deur konferensiegangers se stemme,” het Alna gesê.
“Ons het met 14 pryse vir Mphumalanga teruggekeer.”
Die aap kan nie nou uit die mou gelaat word nie, omdat die wenners amptelik by die Augustus-kongres op Secunda bekendgemaak sal word.
Volgens Alna was die besoek aan die Housewifes Institute se stalletjie’n riem onder die hart. Hulle het dié twee vroue het hulle ondersteun deur van hul handgemaakte produkte te koop.
“Die trots waarmee die vroue hul produkte bemark, het my opgeval.”
Hulle program het ’n Indiese aand, Maleisiese aand en Sjinese aand ingesluit waar hulle tradisionele disse en danse geniet het.
LEES OOK: Robbers murder Bronkhorstspruit businesswoman
Carien het die treinstelselrooster vinnig onder die knie gekry, en het telkens tussen stasies en roltrappe die groep veilig na die hotel teruggelei.
“Sy was keer op keer ons redding,” het Alna ’n pluimpie gegee.
Ons het ook grotte besoek wat trappe klim beteken het om die kleurvolle Hindoebeelde te sien.
Alna en Carien beplan om ’n samestelling van al die foto’s en video’s te maak om met vroue tydens VLU Mpumalanga se kongres te deel.
Wat betref lidmaatskapgroei in die VLU betref, het Alna die voorbeeld van die Federated Women’s Institute of Natal genoem.
Hulle het ’n gedeelte van hul grondwet aangepas om voorsiening vir onafhanklike lidmaatskap te maak en dit werp vrugte af.
Die VLU-vroue werk tans aan kompetisieartikels vir die SAVLU Kongres in 2024 wat op Modimolle (Nylstroom) gaan plaasvind.
“Ons werk onverpoosd daaraan om VLU se gesig varser te maak,” het Alna mee afgesluit.



