Local newsStreeknuus

Waar is Delmas se water?

AfriForum eis redes vir dié wateronderbrekings en wil ook vasstel of Rand Water die waterdruk verlaag het weens wanadministrasie van dié twee munisipaliteite.AfriForum het alreeds in Mei ’n hofgeding teen Rand Water gewen.

Gebrekkige watervoorsiening blyk steeds ’n erger-wordende krisis in Delmas en omgewing te wees. Delmas inwoners, met die insluiting van Delpark en Botleng, het reeds sedert vroeg vanjaar met dié probleem kennis gemaak.

Dit nadat water aanvanklik saans tussen 10:00 en 04:00 soggens uit die krane verdwyn het. Volgens die Victor Khanye Plaaslike Munisipaliteit is die rede daarvoor herstelwerk deur Rand Water.

Rand Water het egter ’n mediaverklaring rondom die noodsaaklike herstelwerk en gepaardgaande watertekort uitgereik en daarvolgens sou daar slegs tussen 26 Mei en 29 Mei moontlik nie water in sekere gebiede wees nie.

Dié herstelwerk was reeds op 28 Mei afgehandel, maar watervoorsiening in Delmas is sedertien nog nie weer normaal nie.

Water het inteendeel na die herstelwerk reeds so vroeg as 19:00 saans uit die krane verdwyn om soggens weer tussen 04:00 en 05:30 terug te keer.



Intussen het ’n mediaverklaring van Rand Water daarop gedui dat hul weens abnormale kragonderbrekings by hul pompstasies en waterwerke nie genoeg water aan dele van Gauteng kan voorsien nie.

Ook in Delmas, Mpumalanga, het die plaaslike munisipaliteit laat hoor dat weens Rand Water se onvermoë om genoeg water na Delmas se reservoirs te stuur, daar nie water in die krane sou wees nie.

Die naweek van 7 tot 9 Julie het Delmassers nie water gehad nie.

Streeknuus het intussen by die Vryheidsfront Plus se Pieter Senekal gaan aanklop om redes vir die waterskaarste te probeer kry.

“Die watersituasie bly ’n voortslepende krisis. Op Sundra en Eloff is dit reeds vir ’n baie lang tydperk ’n groot probleem. Daar is nooit meer vir ’n tydperk van 24 uur per dag water in die inwoners se krane nie. Die water kom en gaan,” het Senekal gesê.


LEES OOK: Robbers murder Bronkhorstspruit businesswoman


Volgens Senekal was hoë vlakke van beurtkrag as die rede aangewys, maar die afgelope tyd se minimale beurtkrag het bewys dat kragonderbrekings nié die rede vir swak toevoer na die gebiede sou kan wees nie.

Senekal meen Delmas word wel tans baie nadelig geraak deur swak watervoorsiening en algehele onderbrekings.

As die Vryheidsfront Plus se raadslid in die plaaslike munisipaliteit het hy benadruk dat die munisipaliteit aanvoer dat dit weens gebrekkige voorsiening vanaf Rand Water is.

Senekal het egter ook genoem dat die steeds groeiende bevolking ’n moontlike rede kan wees waarom Rand Water nie genoegsame water kan voorsien nie.

“Ook op Delmas het die bevolking oor die afgelope 30 jaar geweldig gegroei, maar infrastruktuur is nie sodoende aangepas nie.”

Senekal het verder ook aangedui dat die Victor Khanye hul pomp-prosedures in die Sundra en Eloff-omgewing aangepas het en dat daar verligting is, veral ten opsigte van inwoners wat in hoër liggende gebiede woon.


Slegs ’n dun straaltjie water uit die krane van ’n wooonhuis op Delmas op 11 Julie om 18:30.

Volgens AfriForum het dit ook onder hulle aandag gekom dat daar moontlik probleme met die watervoorsiening is nadat inwoners van hoogliggende gebiede in die Govan Mbeki Munisipaliteit en in die Victor Khanye Plaaslike Munisipaliteit sonder water gelaat is.

AfriForum het daarom op 7 Julie ’n brief aan Rand Water gestuur rakende die gebrek aan watervoorsiening aan sekere dorpe in Mpumalanga wat Delmas, Sundra, Eloff en Rietkol insluit.

AfriForum eis redes vir dié wateronderbrekings en wil ook vasstel of Rand Water die waterdruk verlaag het weens wanadministrasie van dié twee munisipaliteite.

AfriForum het alreeds in Mei ’n hofgeding teen Rand Water gewen. Die hof se uitspraak bepaal dat Rand Water nie die waterdruk weens wanbetaling mag verlaag nie.

Die munisipaliteite het nog nie terugvoer of redes vir die droë krane verskaf nie, maar het wel aangedui dat die instansie wat verantwoordelik is om water aan die munisipaliteit te lewer met tye staak.

“Ons sal nie huiwer om dié saak verder te vat nie. Rand Water verkies eerder om te swyg as om met die waarheid uit te kom. Dít is uiters onregverdig dat onskuldige mense onder hul wanadministrasie ly,” het Hennie Bekker, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Hoëveld, gesê.

Streeknuus het ook ’n skrywe gestuur aan Victor Khanye se munisipale bestuurder, Thabo Mashabela, rondom die gebrekkige watervoorsiening aan Delmas, maar teen druktyd was daar nog geen terugvoer ontvang nie.

Intussen bly alledaagse take soos stort, skottelgoed en wasgoed was vir Delmas se inwoners ’n bykans onbegonne taak.



Follow Us: Ridge Times: Standerton: Streeknuus

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Ridge Times in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button