Delmas behou status as Mekka vir kapings en ontvoering
“Indien jy wel die slagoffer van ’n kaping word, moet daar onder geen omstandighede weerstand gebied word nie. Die kapers en ontvoerders is meestal gewapen en skroom nie om geweld te gebruik nie. Gee eerder jou samewerking. ’n Voertuig en selfoon kan vervang word, maar nie die lewe van ’n individu nie.”

Delmas doen dit weer. Die dorp bly in die spervuur met misdaadstatistiek wanneer dit by kapings en gepaardgaande ontvoerings kom.
Delmas is berug vir kapings wat veral op die N12-hoofweg, tussen die Sundra afrit- en Petroport plaasvind.
Motoriste en vragmotorbestuurders loop egter ook deur op paaie soos die R42 en R50 onder kapers en ‘n sogenaamde bloulig-bende.
Met die misdaadsyfer wat steeds bly klim, was die Delmas Polisiestasie weer deur die minister van polisie, Bheki Cele, as die stasie met die meeste ontvoerings in Suid-Afrika aangewys.
Volgens die nasionale misdaadstatistiek het Delmas in die vierde kwartaal 53 gevalle van ontvoerings gehad. Dit is die hoogste in Mpumalanga.
Statistiek het verder onthul dat Delmas se ontvoering statistiek dieselfde in die vierde kwartaal van 2022 gebly het.
LEES OOK: Secunda FCS warns teens: Sexting could get you arrested
Volgens Cele is ander kommerwekkende hoeveelhede van ontvoerings in Mpumalanga by polisiestasies soos Pienaar met 19 gevalle, Witbank met 17 gevalle en KwaMhlanga wat 10 gevalle aangemeld het en 254 in totaal in Mpumalanga.
By navraag aan die Delmas Polisie waarom statistieke rondom ontvoerings so hoog is, het hulle bevestig dat byna elke kaping met ’n ontvoering gepaard gaan.
Met inligting tot Streeknuus se beskikking, is daar soms tot drie kapings per dag in die Delmas polisie se gebied.
Die modus operandi blyk ook in die meeste gevalle baie dieselfde te wees waartydens niksvermoedende motoriste of vragmotorbestuurders deur die sogenaamde bloulig-bende tot stilstand gedwing word.
In baie gevalle is die kapers in polisie uniform geklee. Daar word om bestuurderslisensies gevra waarna ander verskyn, die deure ooppluk en slagoffers dan na die agterste sitplek geboender word.
Hierna word selfone afgeneem, pinkodes bekom en slagoffers gedwing om gelde in onbekende rekenings oor te betaal. Menige slagoffers getuig daar word met hulle rondgery voordat hulle êrens in die bosse afgelaai word.
LEES OOK: Locals give their perspective on altercation at Sanral-site in Standerton
Kaptein Carla Hartley, mediawoordvoerder van Delmas polisie, het gesê motoriste moet uiters bedag wees en vermy om na donker op die N12 te ry.
Hartley het verder beklemtoon as motoriste vermoed dat hulle deur die sogenaamde bloulig-bende afgekeer word, hulle nie moet stop nie. Ry stadiger, skakel jou noodligte aan en ry tot by die naaste polisiekantoor of veilige plek.
“As ’n lid van die publiek wel in die ongelukkige situasie beland waarin hulle die slagoffer van ’n kaping word, moet daar onder geen omstandighede weerstand gebied word nie.
“Die kapers of ontvoerders is meestal gewapen en skroom nie om geweld te gebruik nie. Gee eerder jou samewerking. ’n Voertuig en selfoon kan vervang word, maar nie die lewe van ’n individu nie.”
Hartley het beklemtoon voertuie met blou ligte op die paneelbord en of in die motor se rooster na alle waarskynlikheid nie die ware Jakob sal wees nie.
Die Delmas polisiestasie het verder sigbaarheidspatrollies in die probleemgebiede opgeskerp om dit vir motoriste veiliger te maak om die paaie te gebruik.”
Hartley het ook bevestig dat verskeie rolspelers vanuit die sekuriteit- en privaat veiligheidstrukture hulp verleen met die opskerping van patrollies in die gebiede en hulle hoop om binnekort ’n positiewe deurbraak te maak in die vlaag van kapings en ontvoerings binne hul polisiegebied.



