Local news

AfriForum en LCUC woeker om Standerton se verval te verhoed

Wat betref die onbenydenswaardige posisie waarin die LCUC hul bevind nadat hul bakkie afgeskryf is, het Enslin ’n pleidooi tot die gemeenskap gerig om ’n bydrae, hoe gering ook al, te maak.

Leon Enslin, takvoorsitter van AfriForum Standerton, het sy visie vir die dorp uitgespel.

“Ons moet mense en hul energie byeenbring om saam die vervalle toestand van die dorp aan te spreek,” het hy gesê.

Enslin het nie gehuiwer om te sê dat dié burgerregteorganisasie ’n goeie verhouding met die Lekwa Munisipaliteit het nie, asook nou met Kasselman Veiligheidsdienste en die polisie saamwerk.

“Ons het oë op die grond nodig om misdaad te bekamp,” het hy bygevoeg.

Buurtwagpatrollies is deel van hul struktuur. Volgens hul persverklaring is verskeie projekte van 3 tot 7 Julie saam met die Lekwa Clean Up Crew (LCUC) voltooi.


Tydens die vuur by Heymans Kole het AfriForum ingespring om te help.

Skoonmaakprojekte is van stapel gestuur om die gebied rondom die Standerton Hospitaal op te ruim en die vullisdromme leeg te maak.

’n Sleepwa het takke wat al vir ’n geruime tyd in Paarlstraat lê, weggery en die gras om die Standerton Skouterrein is as voorbrand gesny.

Voorts het die middedorp aandag geniet en hulle het twee verkeersligte herstel by die kruising van Beyers Naudé- en Prinsesstrate.

Een van dié verkeersligte het op die grond gelê terwyl die ander een aan toue gehang het. Die verkeersligte is weer regop getrek en die pale vasgesweis en versterk.

Hulle het ook slaggate in Beyers Naudéstraat met sowat 20 sakke teer opgevul. Die slaggate van Standerton het in ’n onlangse uitgawe juis publisiteit geniet.


AfriForum werk aan ’n verkeerslig in middedorp.

“Stadig maar seker knap ons Standerton op,” het hul persverklaring by monde van Enslin gelui.

“Dié dorp het baie agteruitgegaan, maar ons gaan vir seker nie stilsit en net toekyk nie. Ons gaan die dorp weer tot sy vorige glorie herstel.”

Enslin het tydens ’n onderhoud op 13 Julie benadruk dat almal in dié organisasie welkom. Hy het voorbeelde genoem waar hulle na mense in nood tydens oorstromings op Morgenzon met kospakkies uitgereik het.

Hulle het ook inwoners in Handelstraat by die Standerton Rivierpark tydens die oorstromings bygestaan.

’n Vuur het ook die afgelope week by Heymans Kole op die Secunda-pad uitgebreek waar AfriForum hand bygesit het. Wat betref die herstel van slaggate, word vir eers op dié gefokus wat verkeersvloei wesenlik beïnvloed.

“Ons het ’n kompakteerder aangekoop en maak sjablone (stensils) vir die munisipaliteit,” aldus Enslin.

Hy is van mening dat daar wel veranderinge te bespeur is, nie net kosmeties nie, waarvan die nuwe Kieser Reservoir ’n klinkklare voorbeeld is.

Hy het ook erkenning gegee aan inwoners wat moue oprol om slaggate in hul strate op te vul.

“Daar is oral oor mense wat iets ekstra doen en dit gee ons hoop.”

Enslin is al donkiejare by AfriForum betrokke en is in Maart vanjaar tot takvoorsitter verkies.

Die komiteelede sluit in Hennie Bekker, koördineerder, Juanita Moll, sekretaresse, Johan Roelofse, projekvoorsitter en Stefaans Botha, buurtwag voorsitter.


AfriForum skenk aandag aan verkeerslig voor ENB in Beyers Naudéstraat.

Almal is vrywilligers en die tak het tans 577 lede, met tussen 20 tot 25 aktiewe buurtwaglede. Enslin het die wanpersepsie dat hul ’n politieke organisasie is, nek omgedraai.

Wat betref die onbenydenswaardige posisie waarin die LCUC hul bevind nadat hul bakkie afgeskryf is, het Enslin ’n pleidooi tot die gemeenskap gerig om ’n bydrae, hoe gering ook al, te maak.

Volgens inligting, is slegs 14 ondernemings tans by die inisiatief betrokke.

Die LCUC se bankbesonderhede is:
Bank: Standard Bank
Naam: Lekwa Clean Up Crew
Rekeningnommer: 136697321
Takkode: 052943





Follow Us: Ridge Times: Standerton: Streeknuus

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Ridge Times in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button