Delmassers vang gees
Delmas, met dieselfde uitdagings as soveel ander plattelandse dorpe, is as Mpumalanga se Dorp van die Jaar. Die inwoners mik om die landwye wenner te word.
Groot gees heers op Delmas te midde die dorp se benoeming as Mpumalanga se verteenwoordiger by die Dorp van die Jaar en die opgewonde afwagting om te hoor watter dorp die uiteindelike wenner vir 2023 sal wees.
Delmas het as wendorp vir Mpumalanga finalis-status in hierdie kompetisie van kykNET behaal. Stemme het op 16 Julie geopen en sou op 21 Julie om 12:00 sluit.
In afwagting vir die stemme om te open het die Delmas Herleef groep van vrywilligers op 16 Julie om 11:00 ’n gemeenskapsbraai by Laerskool Delmas aangebied.
Madel Fourie, komiteelid van Delmas Herleef het die gebeure geopen met die deel van die geskiedenis van Delmas.
“Die Delmassers sit met dieselfde uitdagings as soveel ander plattelandse dorpe en tog is ons gekies as Mpumalanga se Dorp van die Jaar. Hoe is dit dan moontlik?” het Fourie in haar toespraak gevra.
Fourie het voortgegaan deur aan die besoekers te vertel van skrifgedeeltes wat oor die tye heen vir Delmas gebid is.
Volgens haar was daar ook gereeld by die ingange van Delmas gebid en was teksverse soms onder klippe neergesit. Daar was ook op 15 April 2018 en by ander geleenthede as gemeenskap saam gebid teen geweld.
“Ons hoor gereeld dat daar jare gelede gesê was dat ander dorpe by Delmas kom leer en so tussen al die mooi beloftes deur die jare het ek op die oorsprong hiervan afgekom,” het Fourie voortgegaan.
Fourie het vertel dat Wouter van der Merwe van die Lewende Woord sy sieninge oor Delmas sowel as die Amerikaanse prediker, James Galloway, wie Delmas gedurende 2012 besoek het, positiewe seëninge oor die dorp uitgespreek het.

Fourie het ook oor die veranderinge in Delmas gesels en van Delmas Herleef se ontstaan vertel.
Vooraf het vroue, boerderye en besighede saamgestaan om ingange beddings te verfraai en bome te plant, maar op Erfenisdag van 2020 het doktor Martin van Rensburg en Fourie saam besluit om met iets daadwerkliks voor te kom.
Op 29 September 2020 word Delmas Herleef aan die hand van Carel Botha, Marié Terblanche, Diane Bath, Hannetjie van Rensburg, Martin van Rensburg en Madel Fourie gestig.
’n Besoek aan Delmas deur Barend le Grange, wat aan die hoof van die Privilege Foundation staan, wat die Delmassers kom inlig het oor skoonmaak, herstel, plant en verf, het die groep positief geïnspireer en die wiel was aan die rol.

Geld vir projekte was skraps, maar die groep vrywilligers het gegroei en skenkings het begin inkom waarmee projekte aangepak kon word.
“Die dividende het uitbetaal, want op 24 Maart ontvang Delmas Herleef ’n WhatsApp en e-pos waarin hulle meegedeel word dat Delmas saam met Witrivier en Lydenburg as Mpumalanga se Dorpe van die Jaar benoem is.”
Delmas Herleef in samewerking met ander instansies, boerderye en besighede het met nuwe ywer ingespring en Delmas het waarlik begin herleef.
“Die volgende verrassing was die aankondiging dat Delmas in die Mpumalanga-streek gewen het en nou as finalis saam met ander finaliste uit elke provinsie sowel as Namibië om die groot prys meeding.”
LEES OOK: Vandals raid grader in eMbalenhle
Na afloop van Fourie se toespraak, was Van Rensburg aan die word. Hy het elkeen wat ’n aandeel het tot die suksesverhaal van Delmas Herleef bedank vir hul positiewe insette en harde werk.
Daarna was dit tyd vir ’n bietjie vermaak en het Stefanie Coetzee met haar pragstem ’n opvoering, vir die stigterslede van Delmas Herleef opgevoer.
Die tafelgebed was deur Francois de Wee gedoen. Die vure het reeds hoog gebrand en die oggend se verrigtinge kon met ’n heerlike braai en kuier afgesluit word.
“Ons wag in spanning vir die uitkoms van die Delmas storie,” het Fourie afgesluit.







