Local newsLocal sportStreeknuus

Laerskool Eloff spog nou met sy eie hengelspan

Die jong hengelaars moes al teen 07:00 by die viswaters wees om hul eerste stokke in te gooi.

Die inisiatief om ’n Loffies-hengelspan te begin, het sy ontstaan by ’n hengel-liefhebber en pa van een van Loffies se leerders, Wouter van Vuuren, gehad.

Volgens Van Vuuren beplan hy al lank hieraan, maar wou graag die span toerus met uitrustings en die geskikte plek kry waar die jong leerders kon leer hengel.

Gedurende die Julie-skoolvakansie het die groepie leerders vir die eerste keer by Rossouw se dam gaan hengel.

Hulle kon egter in hul professionele uitrustings, kompleet met hemp en hoed, die viswaters op 5 Augustus aandurf.

Die jong hengelaars moes al teen 07:00 by die viswaters wees om hul eerste stokke in te gooi. Loffies se hengelaars, ouers en die skoolhoof, Louise Linde het saam op die wal van die dam gekuier.



Van Vuuren is ook die span se afrigter en onder sy bekwame hand en met die hulp en bystand van ouers het verskeie spanlede sukses gehad en was daar deur die loop van die oggend ’n paar visse uitgetrek.

Van Vuuren het ook sy opregte dank teenoor die borge wat bygedra het tot die span se uitrustings uitgespreek.

“Ons het selfs die voorreg beleef om ’n borg vanuit Amerika te kry. Ons is ook baie dankbaar vir die dam wat tot ons beskikking gestel is en waar ons jong hengelaars die kuns van visvang kan aanleer,” het van Vuuren gesê.

Terwyl Johan Barnard kon spog met die eerste vis uit die water uit, het Wian Blignaut en Johnny van Vuuren ook sukses gehad.

“Dit is ’n uitstekende en gesonde tydverdryf vir die jongklomp. Dit bring hulle nader aan die natuur en is boonop ’n sport wat hulle ook as volwassenes kan bedryf,” het van Vuuren afgesluit.




Follow Us: Ridge Times: Standerton: Streeknuus

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Ridge Times in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button