Local news

Ma van gestremde dogter op Bethal kort steeds hulp

Madeleine is verheug oor nuwe huis in eMzinoni, maar kan nog nie intrek nie.

Madeleine van Staden het uiteindelik na sewe jaar ’n huis vir haar en haar serebraal gestremde dogter, Shanel Nunes (21), gekry.

Dié huis is in eMzinoni geleë en is onlangs klaar gebou, maar daar is nie ’n geyser, omheining om die huis, of teëls binne in die huis of kaste nie.

Sy het dié huis by die staat gekry met behulp van Disabled People South Africa (DPSA).

Shanel is sedert haar geboorte gestrem nadat sy nie genoeg asem gekry het tydens geboorte nie en breinskade opgedoen het.

Hoewel Shanel op driejarige ouderdom steeds nie begin kruip of loop het nie, het Van Staden wel daarin geslaag om haar te leer loop.

Sy kon egter sien haar kind ontwikkel nie soos ander kinders nie en op sesjarige ouderdom is Shanel met outisme en erge breinskade gediagnoseer.


LEES OOK: GMM to check on sewer dams used by children


Shanel kon loop totdat sy 11was, todat sy een dag net inmekaar gesak het. Vandaar kon sy nooit weer loop nie en soos wat sy ouer word het haar liggaam al hoe meer begin verswak.

Van Staden was genoodsaak om vir haar dogter ’n rolstoel te kry. Shanel was nog altyd ondergewig, maar het begin gewig optel toe sy ouer geword het.

Dokters het agtergekom haar pituïtêreklier werk nie omdat dit vermoedelik tydens haar geboorte beskadig is.

Dié klier is onder meer verantwoordelik om die skildklier gesond te maak, omdat dit ’n skildklier-stimulerende hormoon produseer.

Omdat die klier nie hormone produseer soos dit moet nie, het Shanel gewig opgetel.

’n Weldoener vanuit die gemeenskap het ‘n paar jaar terug vir Shanel ’n elektriese rolstoel geskenk en dit het Van Staden se lewe baie makliker gemaak.


LEES OOK: Fatal accident on N17 near turn off to Kinross water reservoirs


Sy kon Shanel uitneem en met haar gaan stap. Sy kon winkel toe stap met Shanel as sy iets nodig gehad het.

Dié rolstoel is egter nou stukkend en Van Staden kan dit nie bekostig om dit te laat regmaak nie.

Hierdie ma se grootste uitdaging tans is om Shanel by die regte mediese personeel uit te kry om die blase en brandwonde op haar bene te versorg.

Die aand van 10 Julie, toe dit vir die eerste keer in jare gesneeu het in Secunda, Bethal en verskeie plekke in die land, het Shanel beide haar bene met kookwater gebrand.

“Dit was baie koud daardie aand en Bethal se krag was alweer af, so ek kon nie die elektriese kombers of verwarmer aansit nie,” het Van Staden vertel.

“Ek het toe die warmwatersak, wat sy in April vir haar 21ste verjaarsdag by ’n vriendin gekry het, op haar bene gesit.”

Dié sak het egter oopgebars en Van Staden moes in die middernagtelike ure iemand bel om hulle na Bethal Hospitaal te neem.

Na 11 weke in verskeie hospitale in die omgewing, en nadat Shanel infeksie opgedoen het op die been, glo Van Staden haar bene is steeds nie reg nie.

“Sy tel die hele tyd haar een been op en ek kan sien daar is iets fout. Ek vermoed hulle het haar senings beskadig.”

Van Staden is glad nie beïndruk met enige van die hospitale waar Shanel die afgelope 11 weke was nie, omdat al drie hospitale Shanel huis toe gestuur het terwyl haar bene nog nie heeltemal gesond was nie.

“By die privaat hospitaal op Middelburg, het sy ’n oop wond gehad en hulle het eers ure later iemand gestuur om die wond skoon te maak.”

As Shanel se wonde nie binnekort herstel nie, wil Van Staden regsadvies inwin oor wat haar regte is in die situasie en verdere stappe neem.

Intussen probeer Van Staden genoeg geld spaar om haar nuwe huis heeltemal klaar te maak, so dat sy en Shanel kan intrek.

Sy het vir sewe maande gespaar om genoeg geld te hê om diefwering op te sit. Sy sien om na ander gestremde kinders en bak koeke en koeksisters vir ’n ekstra inkomste.

Enige iemand wat vir Van Staden en Shanel wil help en ondersteun, kan Van Staden skakel by 072 259 9780.



Follow Us: Ridge Times: Standerton: Streeknuus

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Ridge Times in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button