Gemeenskapsaal op Delmas se geskiedenis lê in puin
Bron: Delmas 80 (1907 – 1987) geskryf deur AJ Scholtz, uitgegee deur die Stadsraad van Delmas en gedruk deur Steynbros Drukkers.
Delmas se gemeenskapsaal op die feesterrein, geleë aan die R555-pad, later ook genoem die skouterrein, was op 19 Oktober 1985 met ’n reuse kermis, pretdraf en ’n boomplantseremonie ingehuldig.
Met Streeknuus se aankoms op die perseel op 4 Oktober 2023, byna op die dag 38 jaar later, was daar slegs ’n paar hope bourommel te sien.
Dit is onbekend wanneer presies die grootskaalse vandalisering en stropery van hierdie geskiedkundige geboue en infrastruktuur begin het, maar foto’s toon dat dit in Januarie vanjaar reeds feitlik heeltemal afgebreek was.
Dié feessaal of gemeenskapsaal, later genoem die skousaal, asook die Agri lapa saal het vir baie jare se groot vermaak gesorg in die vorm van landbouskoue, saalperdbyeenkomste, feeste, troues, verjaarsdae, boeredae, geldinsamelingsgeleenthede, Country en Western- en ander vermaak.
Ook verskeie sangers het by geleentheid opgetree, waarvan van die laastes Theuns Jordaan asook Juanita du Plessis was.
Na 38 jaar in die midde van die hoop bourommel het slegs een baken, ongeskonde en skynbaar nie in die visier van die vandaliste nie, staande gebly.
Dit is die Sarel Cilliers ossewa-besoek gedenksmonument wat op 5 Desember 1938 buite Delmas in die Dryden-omgewing opgerig was, maar volgens inligting op 16 Desember 1991 na die feesterrein verskuif was.
Volgens oorlewering het die gedagte vir ’n gemeenskapsterrein, buite die dorp, maar tog ook naby en maklik bereikbaar vir Delmas en omgewing se inwoners reeds in die vroeë tagtigerjare ontstaan.
Die raad van daardie tyd was glo gretig om die aangeleentheid te bespoedig. Geskiedenis wil dit verder hê dat die terreinkomitee van daardie tyd met groot dringendheid aan die werk gespring het om die droom van ’n feesterrein werklikheid te maak.
Almal wat daarby belang kon hê soos die stadsraad, die geloftefeeskomitee, die burgemeesters van Devon en Leandra, die voorsitter van Eloff se ontwikkelingskomitee, die Suid Afrikaanse Vroue Federasie (SAVF), die sportfederasie, die boerevereniging, die skouverening en vele meer was betrek.
Volgens ’n boek genaamd Delmas 80: 1907 – 1987, saamgestel deur AJ Scholtz, het die raad toe op 26 September 1985 groot nuus ontvang.
Die destydse minister Hendrik Schoeman het die perfekte terrein aan die raad geskenk. “Om aan te wend in belang van die gemeenskap van Delmas,” het wyle Schoeman destyds laat hoor.
Scholtz het verder in sy boek gemeld dat Schoeman se woorde baie eenvoudige woorde was, maar woorde wat trefkrag van vriendelike versoek, onbedekte wens en die moontlikhede van onbeperkte uitdagings gelaat het.
Volgens Scholtz se inligting soos vervat in sy boek, slegs genaamd, Delmas 80 sou die saal, volgens konsepbeplanning R150 000 kos, maar daar was slegs R70 000 daarvan beskikbaar.
Daar was glo egter besluit om met die bouwerk te begin en die suksesvolle tenderaar DPK Bouers het onmiddellik aan die werk gespring.
Die bouwerk het fluks gevorder met ruim skenkings van onder meer die jeugstadsraad, die stadsraad en vele ander individue en instansies wat boumateriaal geskenk het, en kon die saal in November ingewy word.
Bron: Delmas 80 (1907 – 1987) geskryf deur AJ Scholtz, uitgegee deur die Stadsraad van Delmas en gedruk deur Steynbros Drukkers.













