Alet van Vuuren van Standerton se spanning met beurtkrag het verdriedubbel
Sy is stabiel op die oomblik en wag op die welkome skenking van ’n draagbare suurstofmasjien.
Die gevolge van volgehoue beurtkrag plaas meer as een inwoner van Standerton in ’n benarde situasie. Een gelowige 76-jarige vrou, wat staatmaak op suurstofmasjiene, het ’n opdraande stryd in hierdie kragsituasie.
Alet van Vuuren is afhanklik van suurstofmasjiene. Haar woning is gerat om kragonderbrekings die hoof te bied, maar die invloed op haar gemoedstoestand is verreikend.
Uiteraard is sy nie die enigste een wat afhanklik van suurstofmasjiene is om te oorleef nie. Persone wat aan slaapapnee ly, word ook wesenlik geraak.
Die Standerton Advertiser het reeds in Oktober verlede jaar berig oor dié situasie en het op 28 Oktober weer besoek by haar afgelê.
“Die agt batterye in die ‘UPS’ word normaalweg gebruik as die krag vir ’n lang tydperk af is,” het Alet verduidelik.
“My kleiner suurstofmasjien kan langer krag trek.”
As die krag vir ’n tydperk van ses ure onderbreek word, kan sy nie slaap nie alvorens sy weet die elektrisiteitsvoorsiening is gestabiliseer nie.
“My groot vrees wat my angstig maak is dat die krag nie gaan aankom nie. Ek leef in spanning.”
As sy byvoorbeeld gaan kos maak of badkamer toe gaan, is dit sonder ’n suurstofmasjien. Sy is stabiel op die oomblik en wag op die welkome skenking van ’n draagbare suurstofmasjien.
Die geluid van die suurstofmasjiene is juis vir haar gerusstellend. Haar hart is ook vergroot. As sy so benoud raak, raak dit swart voor haar en sien sy net spikkels omdat nie voldoende suurstof beskikbaar is nie.
Alet het seisoenale asma opgedoen en plaas die blaam vierkantig voor die deur van die kragvoorsiener.
“Ons het drie plase van Tutuka Kragstasie af gebly.”
Alet het ook die rol wat die nabygeleë New Denmark en Sasol op Secunda speel geopper. Lekwa Munisipaliteit se Eskomskuld was die wit olifant in die kamer.
“My spanning het verdriedubbel.”
Sy het twee hartaanvalle oorleef en ’n bekkenfraktuur opgedoen oor die afgelope paar jare.
Die Van Vuurens het wel ’n kragopwekker, maar Alet is soms afhanklik van WhatsApp om navraag te doen oor wanneer die krag aankom.
Beplanning is by die agterdeur uit omdat die beurtkragskedule nie betroubaar is. Voeg daarby die aantal probleme, veral in die middedorp, as sekere gebiede se elektrisiteit bloot nie herstel word nie.
Elektrisiëns is ook nie geredelik na-ure beskikbaar nie en soms word gewag vir Eskom om hulle span te ontplooi om foute op die netwerk na te speur.
Die prop in die bad is ook uitgetrek van tyd tot tyd as watervoorsiening die knie moet buig omdat die pompe tot ses ure vat om te begin werk. Persoonlike higiëne raak problematies.



