Hare waai by Laerskool Delmas vir jong kankerlyer
Ook Talitha se ouer sussie, die 11-jarige Zanri het dapper gesit om haar bos lang blonde hare te laat afsny en vir kankerpasiënte te skenk.
Leerders van Laerskool Delmas het op 24 November aan ’n haresny marathon op die skool se sportveld deelgeneem.
Dié gebaar van omgee is deur die skool gereël ten bate van die kankerlyer Talitha Berg. Die vierjarige Talitha is op die brose ouderdom van twee jaar met kanker gediagnoseer.
Laerskool Delmas se leerders het spontaan aan die haresny marathon deelgeneem. Ook Talitha se ouer sussie, die 11-jarige Zanri het dapper gesit om haar bos lang blonde hare te laat afsny en vir kankerpasiënte te skenk.
Die trane wou-wou vloei, maar Zanri het deurgedruk. Boetie Joach (9) het ook sy hare laat waai.
Zanri en Joach is beide leerders aan Laerskool Delmas.
LEES OOK: Huldeblyk aan Cullinan se Hester Sophia du Preez
Talita en haar ouers, Albert en Tanja Berg was ook teenwoordig en sy kon die hele haarsny gedoente gade slaan.
“Ons wou graag ook Talitha se hare op dieselfde dag sny, maar etlike dae vantevore het haar hare weens die chemobehandeling wat sy ontvang het in bosse begin uitval. Ons het toe as gesin besluit om vooraf Talitha se oorblywende hare af te skeer en pa Albert het toe ook sy hare laat waai,” het Tanja Streeknuus meegedeel.
Geld wat tydens die haresnysessie ingevorder is, is op die dag aan Talitha se ouers oorhandig en sal aangewend word vir Talitha se mediese kostes.
“Ons as gesin wil vir Laerskool Delmas, die hoof en personeel bedank vir die wonderlike gebaar. Ons waardeer dit opreg,” het Tanja gesê.
LEES OOK: Locals pray for safety in the Bronkhorstspruit area during the festive season










