Poppie van Zyl (75) se naam pas by haar stokperdjie. Sy versamel poppe en sagte speelgoed en het al 344, waaronder 69 porseleinpoppe.
Sy het ook ’n bordjie in haar woonstel wat lui, ‘Ouma Poppie se Pophuis’. Dié ouma het vyf kleinkinders en drie agterkleinkinders.
Dié stokperdjie het begin toe sy nog op Bloemhof gebly het en gesien het hoe die nuwe eienaar van ’n saadstoor die items wat in dié stoor was, uitgesorteer het.
Onder dié items was twee ‘reborn’ poppe en ouma Poppie het gesien dit gaan op die ashoop beland.
“Daar was items van vier geslagte in daardie saadstoor en ek het toe vir die nuwe eienaar gesê as sy daardie poppe gaan weggooi, sal ek hulle neem,” het ouma Poppie vertel.
Dié poppe is glo jare terug gebruik by die kliniek in voorgeboorteklasse om vir nuwe mamma’s te leer hoe om hul babas te hanteer.
Sedertdien het almal wat haar ken vir haar poppe gegee en sy het ook tweedehandse poppe begin koop.
Sy was van kleins af lief vir poppe en het as kind sowat 30 poppe gehad.
Ouma Poppie het in Greytown en Durban grootgeword en as ’n hulp-verpleegster gewerk voordat sy en haar man, Piet van Zyl, wat sy na skool ontmoet het, na Clarens verhuis het.
Hulle het ’n kafee op Clarens gekoop en hul vyfde kind is op Clarens gebore.
Die gesin het toe vir 18 jaar op Welkom gebly en toe die egpaar afgetree het, was dit hul plan om met ’n woonwa deur Suid-Afrika te reis.
LEES OOK: Secunda Round Tablers tell of their Cape Agulhas experience
“Ons het egter by Port Alfred in die Oos-Kaap vasgehak vir ses jaar omdat dit so mooi was daar en omdat ons so lekker gebly het.”
Die egpaar het selfs later gehelp om die woonwapark te bestuur.
Die besige seisoene en om in die nag op te staan vir besoekers sonder besprekings het hulle egter begin vang en hulle het besluit om na Bloemhof te verhuis.
Hulle het vir 18 jaar hiér gebly en Piet is in dié tyd met vaskulêre demensie gediagnoseer en Poppie het hom versorg totdat hy dood is in Februarie 2015.
’n Paar jaar na sy dood het haar kinders haar oortuig om op Secunda te bly sodat sy nader aan hulle kon wees.
“Ek geniet dit om die ou poppe wat al gehawend lyk en vuil is te was en vir hulle nuwe klere te maak; dit hou my besig.”
Ouma Poppie kyk op Google watse soort klere seker poppe dra en as sy vir hulle nuwe klere maak, probeer sy dit so na as moontlik aan die oorspronklike klere te hou.
Sy het al Spaanse klere gemaak vir ’n pop asook verskeie ander lande se klere.
Haar gunsteling poppe is die twee ‘reborn’ poppe wat sy heel eerste gekry het toe sy met dié versameling begin het en ’n porseleinpop wat drie gesigte het.
“Sy kan gelukkig of hartseer wees of slaap.”
Van die poppe in haar se versameling is al 50 jaar oud. In haar vrye tyd geniet sy dit om te lees, te brei, te hekel, borduurwerk te doen of om tuin te maak.

Sy geniet dit ook om kunsvlyt te doen en sy en haar dogter, Amanda Grobler, en twee vriendinne het maandeliks ’n kunsvlytdag waartydens hulle allerhande interessante kunsartikels maak.
Ouma Poppie het ook die groep SA Rocks Journey op Facebook begin waar mense klippe optel, verf en weer êrens op ’n voetpaadjie of publieke plek neersit vir iemand anders om op te tel.
Van die klippe wat Van Zyl geverf het is al oorsee en sy het 200 klippe neergesit en terugvoer gekry van 19 mense wat van dié klippe opgetel het.
Die idee is, as iemand die klippe optel, om ’n foto te neem en die op die Facebookblad te plaas en te sê waar dit opgetel is.







