Local news

Renette de Sousa van Standerton vertel van haar lewe as vrywilliger

“Ek het nie noodwendig al die antwoorde nie, maar wil mense help om weer heel te word.”

Renette de Sousa is passievol oor gemeenskapsbetrokkenheid waarvan haar vrywilligerswerk by Cansa en die parkrun op Standerton getuig.

Sy het onomwonde verklaar dat mense op die aarde gesit is om ander te help.

Wat Cansa aanbetref, flits die rooi ligte.

“Cansa op Standerton staan in gevaar om dood te loop en hulle is op soek na jonger mense om te help om ’n komitee op die been te kry,” het Renette vertel.

Sy is meestal gemoeid met die geldinsamelingsprojekte soos die Cuppa, Relay for Life, Shavathons en so meer om skaapvelle, om bedsere te verhoed, of doeke aan te koop vir kankerpasiënte.

“Hulle kom gewoonlik met Cansa in verbinding as sake soos mediese voordele uitgeput is,” het sy gesê.

“Daar is tans te veel druk op diegene wat beskikbaar is.”

Volgens Renette, is Cansa ook beïnvloed deur die pandemie en hulle het ’n ampsdraer in Pretoria wat beheer uitoefen.

“Ons moet ’n jong spannetjie bymekaarkry en ek sal leiding gee.”

Volgens haar, is daar heelwat kankerpasiënte op die dorp. Wat betref die erns van die saak, het sy op die ligter sy gewys.

“Aan die een kant is dit hartseer en moeilik, maar aan die ande kant is daar hope pret.”

Die ‘relays’ en ‘shavathons’ sorg vir gemoedelikheid. Sy is in Pretoria gebore, maar het net daar gebly tot sy nege was, alvorens hulle Bloemfontein toe getrek het. Skool en kollege het gevolg en sy en Manuel is ook daar in 1981 getroud.

“Ek is eintlik ’n Vrystater in murg en been.”

Renette is reeds sedert 1986 op Standerton en bestuur ’n salon wat spesialiseer in gesondheid, skoonheid en gewigsverlies. Daarbenewens het sy meer as een gekwalifiseerde beradingskursus (NLP en MLNP) in Pretoria en Johannesburg bygewoon en ook die kursus van die Replika Kerk op Standerton voltooi.

“Ek wil graag my passie uitleef en meer betrokke raak by berading.”

Renette slaan selfverwesenliking hoog aan met haar humanitêre sienswyse.

“Ek het nie noodwendig al die antwoorde nie, maar wil mense help om weer heel te word.”

’n Saterdag is nie ’n dag wat sy agteroor sit nie. Sy is meestal vroeg as vrywilliger op haar pos by die parkrun by die Standerton Rivierpark.

“Ek het net die eerste een misgeloop en begin stap, maar teen die derde of vierde keer die behoefte aan vrywilligers besef.”

Fadeela Omar, Mpumalanga ambassadeur vir die parkrun, is weer op haar pos.

Renette en Charl van Wyk en ander stap ‘direkteure’, maak dit hulle taak om die geroesemoes van honde wat blaf en deelnemers wat op hul horlosies kyk, teen 08:00 op die roete te kry.

Die vrywilligers neem foto’s en Renette hanteer die Facebook-blad deur om die foto’s te plaas.

“Gewoonlik stuur ek die inligting vir koerante teen 10:45 en handel alles teen 12:45 af.”

Hoewel sy nie as ’n reël afsprake op Saterdae maak nie, sal sy, as die nood druk, teen 13:15 haar eerste kliënt by die salon sien.


Renette de Sousa is betrokke as vrywilliger by meer as een organisasie.

Renette het twee pugs, Batman en Robin, in goeie kondisie met hul hare wat blink, wat ounooi oppas.
Kersfees was die hele familie op Umhlanga.

Vernon en Lee-Anne woon in Centurion, terwyl Clinton en Dorien met babaseuntjie, Odin by die kus bly.
Klein Odin sal op 28 Januarie een jaar oud word. Vir Renette is daar wel hoogtepunte in haar lewe om uit te sonder.

“Die geboorte van my kinders en kleinkind.”

Ook niks van die aaklige skoonma en skoonmagrappies nie.

“Ek is geseënd met my seuns se keuses van vroue,” het sy mee afgesluit.


At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Ridge Times in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button