Delmas VLU-tak skop 2024 op ’n fris en vars noot af
“Ons sien met hernude ywering uit na die nuwe jaar, met nuwe vriendinne, nuwe ervarings en hope nuwe vaardighede.”
Die vroue van die Delmas Vroue Landbou Unie-tak (VLU) het op 15 Januarie die nuwe jaar se bedrywighede afgeskop.
Die voorsitter, Marié Terblanche, het die verrigtinge geopen en elkeen terug verwelkom na die vakansie.
Sy het aan die lede die belofte uit Psalm 97 voorgehou, “God is lig, Hy is die Heerser van Sy Skepping, Hy is ons krag en ons beskerming en laat die lig oor die regverdiges skyn.”
Spesiale verwelkoming aan die kuiergaste van die oggend, Elize Botes en Madaleen Blane het gevolg. Volgens die skakelbeampte, Magriet Swart is Blane ’n skool- en koshuis vriendin van VLU-lid, Belinda Duvenhage.
“Elize is bekend en geliefd vir haar talente wat strek vanaf trourokke maak, onthale en dekor beplan en aanbied. Sy is iemand vir wie se hande niks verkeerd staan nie,” het Swart bygevoeg.
Na afloop van die voorhou van die skakel-, finansiële en voorsittersverslae vir goedkeuring was die program vir 2024 bespreek.
Daar was onder meer besluit om ’n geldinsalmeling te hou om die tak se geldsake te versterk. Volgens Swart sou daar ook ’n streeksvergadering gehou word.
Hiertydens sal die gebottelde kompetisie artikel ingehandig word vir beoordeling op streeksvlak.
“Dit sluit in tamatieblatjang en ongekookte Italiaanse slaaisous. Die vroue het baie lekker hiermee geëksperimenteer.”

Die VLU jaarlikse konferensie vind plaas op 6 Februarie in Witbank. Tydens dié geleentheid word die dek van die tafels deur die lede van Delmas hanteer.
“Alle takke lewer ’n bydrae tot die geskenksakke wat aan die kongresgangers op die dag uitgegee sal word.”
Na afloop van die propvol eerste vergadering het die lede die erns agtergelaat, boeke weggepak en heerlik aan die werksklas meegedoen.
Jana Strydom van Sela het die klas aangebied en die vroue rondom die découpage tegniek van glasbottels touwys gemaak. Die gasvroue vir die oggend het gesorg vir ’n verkwikkende ontbyt met vrugteslaai, roomys en jogurt.
“Ons sien met hernude ywering uit na die nuwe jaar, met nuwe vriendinne, nuwe ervarings en hope nuwe vaardighede,” het Swart afgesluit.
Die Delmas VLU-tak vergader elke derde Dinsdag van die maand in die saal van die Hervormde Kerk op Delmas. Belangstellende vroue word uitgenooi om Marié Terblance by 083 968 2203 te skakel.



