Patria du Plooy staan haar plek by die ouetehuis op Standerton vol
Patria het navorsing begin doen oor geriatriese opleiding en tot die slotsom gekom dat basiese versorgingsorg nie verander nie, maak nie saak op watter stadium van die mens se lewe jy daarby betrokke is nie.
Die kunssinnige Patria du Plooy se loopbaan het in die oorloggeteisterde voormalige Rhodesië begin en het met die pandemie op Oos-Londen geëindig, alvorens sy as bestuurder van inwonersorg by die Kosmos Aftree-oord aangestel is.
Patria is reeds sedert September 2020 by die oord betrokke.
Sy het in 1977 in Zimbabwe by die voormalige Andrew Fleming Hospitaal ’n verpleegkunde diploma na drie jaar verwerf.
Die besluit om na Suid-Afrika te emigreer het gewentel om die behoefte om verloskunde te studeer.
Sy moes in Afrikaans by die voormalige HF Verwoerd Hospitaal in Pretoria studeer.
“Dit was ’n aanpassing,” het sy toegegee.
Dit is maar die ore van die seekoei omdat sy ook opgelei is om met ‘premmies’ (vroeggebore babas) te werk. Sy het ’n neo-natale sertifikaat by die Universiteit van Pretoria suksesvol voltooi en is kundig oor farmakologie en infeksiebeheer.
Haar ondervinding om per helikopter vanaf Waterkloof Lughawe sam met babas van tussen 600g en meer te vlieg en by ’n hospitaal te kry, spreek boekdele.
Gewapen met ’n noodtas, inkubator en ventilator is die ‘premmies’ veilig by hul bestemming gekry.
“As die son begin opkom, het ons hulle gaan haal.”
Dié ouma van sewe kleinkinders is met Simon in Suid-Afrika getroud.
Haar twee seuns, Tawn en Charl en Simon se kinders, Laretha en Johann, is in een familie verbind.
Patria, wat Afrikaans vlot praat, het saam met Simon vir 20 jaar in Gonubie (Oos-Londen) gebly.
“Ja, ek kon by die huis bly en verf, maar het geselskap gemis.”
Dit is waar sy ’n buurvrou se gesellige kunsklasse vir drie jaar getrou bygewoon het. Sy het ook werkwinkels in kuns onderneem.
Simon was baie ondersteunend toe hulle toevallig gehoor het dat ’n suster by die ouetehuis gesoek word.
Patria het navorsing begin doen oor geriatriese opleiding en tot die slotsom gekom dat basiese versorgingsorg nie verander nie, maak nie saak op watter stadium van die mens se lewe jy daarby betrokke is nie.
“Seniors are the generation of the third age,” het sy na Engels oorgeslaan.
Sy het verlede jaar drie kunssessies vir die inwoners by die oord aangebied met haar eie voorraad waterverf en potlode.
“Dit is verbasend om te sien hoe die bewing in die hande bedaar as hulle die potlood en kwas optel,” aldus Patria.
“Die inwoners het dit baie geniet.”
Annetjie Steyn, die vorige matrone en Louise Visagie, die voorloper met geldinsamelingsprojekte vir die oord, het gesorg dat soetkoekies en tee byderhand was.
Patria wil nou ’n sessie in Februarie reël en van haar planne sluit in om van klei gebruik te maak, ’n slangetjie te maak wat in ’n pot omskep kan word, later gebak en geverf kan word.
Sy hou van gedetailleerde kunswerke en die realisme spreek tot haar.
“Wat jy sien, verf jy.
“Ek hou daarvan om met tekstuur te speel.”
Dié talentvolle vrou met haar kennis en agtergrond, glo aan sosiale samesyn te midde van die uitdagings wat die lewe bied.



