Sundra se eerste boeremark bring gemeenskap bymekaar
“Daar was werklik ’n behoefte in die omgewing om ’n boeremark te vestig. Ek het gevoel om met ons boere hande te vat. Daar is tog ’n plekkie vir elkeen in die son.”
Die wens van ’n plaaslike inwoner, Gideon Lubbe, het op 27 Januarie by Puple Plum se Danskraal op Sundra waarheid geword.
Die omgewing van Sundra, Eloff, Delmas, Droogefontein en Modderoos Boorde se eerste boeremark waar slegs vars groente, vrugte, handgemaakte items en ander voedselprodukte verkoop kan word, is nou ’n werlikheid.
Menige plaaslike uitstallers het kopers op die eerste dag met varsgebakte koekies, beskuit, handgemaakte kerse, naaldwerkitems, vars groente en vrugte wat stroopsoet waatlemoene en turksvye ingesluit het asook ingelegde produkte, vars plaaseiers, vars gebakte brood, bokmelkkase en vele meer, verras.
Kerrie-en-rys worsrolle was op die spyskaart terwyl die droeë kele iets by Danskraal kon geniet.
Bekende sanger in plaaslike kringe, Vince van Wyk, het vir ’n lekker gees met sy sang en musiek gesorg.
Natasha James se handgemaakte ring- en juwele uitstalling het groot aftrek gekry.
Kim Wilkinson se handgemaakte kunsitems, messe en leer artikels het vir elke besoeker iets gebied.
Susters Deirdré du Preez en Marlene Fourie van Delmas se Gifts@Dené het van hul hout lasersny-items op uitstalling gehad en sommer by voorbaat ook daardie Valentynsdag-geskenkies uitgestal.
Annetjie Breytenbach en Oupa Andries Gerlach (90) was daar met hul unieke hoë proteïen hondekos. Breytenbach het ook van smulhoekie se produkte te koop aangebied.
By Lukas en Linda Coetzer se stalletjie kon elke besoeker aan hul tuisgemaakte konfyte en ander heerlike botteltjies met ’n effens tot ’n baie warm brand proe en besluit watter een om saam huis toe te neem.
Matthew Whytock en Tyron Bester het gesorg vir vars plaaseiers.
By BenMariki se Bietjie Plaasstalletjie kon daar nie net lekker kondensmelkkoffie gekoop word nie, maar ook tuisgemaakte bokmelkkaas, botter, beskuit en ander lekkernye so reg uit die plaaskombuis.
Lubbe het Streeknuus meegedeel dat daar volgens hom ’n groot behoefte was aan ’n plek van samekoms waar plaaslike boere vir hul produkte ’n afset kan kry.
“Nie net vir die verkoper nie, maar ook vir die koper. Erens waar gesinne die week se vars produkte teen baie beskostigbare pryse kan aankoop.
Volgens Lubbe het hy ’n boodskap, waarin hy die water getoets het rondom belangstelling in ’n boeremark, op Facebook geplaas.
“Die terugvoer was oorweldigend. Ek moes binne etlike dae reëlings tref, stalletjies bevestig, maar ook ’n geskikte perseel kry waar die omgewing se eerste boeremark kon plaasvind.”
Monique Harris, die eienaar van Purple Plum op Sundra het goedgunstelik ingestem dat die boeremark op die perseel aangebied kan word en boonop was daar ooreengekom dat uitstallers nie vir hul staanplekke hoef te betaal nie.
“Daar was werklik ’n behoefte in die omgewing om ’n boeremark te vestig. Ek het gevoel om met ons boere hande te vat. Daar is tog ’n plekkie vir elkeen in die son,” het Harris Streeknuus meegedeel.
“Toe my oorlede pa, Chris Harris, Purple Plum destyds begin het, was dit met die oog op alles onder een dak vir die gemeenskap. Ek glo hierdie unieke boeremark van ons pas perfek in by my pa se planne.”
Volgens Monique het sy ’n verdere hektaar grond reg agter Danskraal beskikbaar en glo met uitbreiding van die boeremark sal sy die gebeurtenis suksesvol daarheen kan skuif.
Lubbe glo dat die boeremark ’n groot sukses sal wees en beplan om dit op ’n weeklikse basis aan te bied.
Alle belangstellende uitstallers word genooi om vir Lubbe by 062 010 1800 te skakel.
“Jou stalletjie is gratis, solank dit net handgemaakte- of vars produkte is, is jy welkom,” het Lubbe afgesluit.












