CrimeLocal newsStreeknuus

Delmas-vrou agter tralies nadat sy glo miljoene by Laerskool steel

By verdere ondersoek was daar bevind dat Larissa haarself tussen die tydperke van 4 Maart 2022 tot en met November 2023 met sowat R2.6 miljoen vanuit die Laerskool se geld gehelp het.

’n Vrou van Delmas is in hegtenis geneem nadat sy na bewering miljoene uit die rekening van Laerskool Delmas gesteel het.

Larissa Vern (52) is op 9 Februarie in Thabazimbi deur lede van die Valke op Secunda, in samewerking met lede van die Delmas SAPD en met die bystand van AfriForum Delmas Valke Buurtwag protospan in hegtenis geneem.
Sy het glo daar geskuil.

Haar 15-jarige dogter was by haar toe sy inhegtenis geneem is. Vern, ook bekend as Larissa Kruger, het in Januarie 2022 as finansiële beampte by die skool begin werk en was verantwoordelik om diensverskaffers en salarisse aan onderwysers in beheerliggaamposte te betaal.

Sy het ook kontant ontvang vir verkope wat deur die skool gemaak is, het die skool se begroting bestuur en moes verseker dat die skool se uitgawes nie die inkomste oorskry nie.

Vern het verder ook die kleinkas bestuur en kontant deposito’s by die bank hanteer. Gedurende Oktober 2023 was inligting egter ontvang dat Vern na bewering haarself met twee bonusse bederf het.


ALSO READ: Bethal police warn of hitchhiking robbery


By navraag deur ’n ander finansiële beampte het Vern na bewering aangevoer sy het ’n fout gemaak en sou die geld aan die skool terugbetaal het. Volgens inligting het dit glo egter nooit gebeur nie.

By verdere ondersoek was daar bevind dat Vern haarself in die tydperk tussen 4 Maart 2022 en November 2023 na bewering met sowat R2.6m vanuit die laerskool se koffers gehelp het.

Die geld was glo verder in vier verskillende Captitec bankrekenings inbetaal vanwaar dit gereeld binne dié bankrekeninge rondgeskuif is. Verskillende verwysings, bekende diensverskaffers aan die skool, sou glo gebruik word.

Streeknuus het verder vertroulik verneem dat Vern glo verskeie duur en luukse items aangekoop het waarvan sommige in die vorm van geskenke weggegee is.

Van die R2.6m blyk daar nie ’n sent oor te wees nie. ’n Merkbaar bleek en bewerige Vern het op 12 Februarie haar eerste verskyning in die Delmas Landdroshof gemaak.


ALSO READ: Ouetehuis op Standerton bied nou verskeidenheid verblyfopsies


Sy was die keuse gestel om om staatshulp aansoek te doen, haarself te verdedig of ’n prokureur van haar eie keuse aan te stel.

Vern het om staatshulp aansoek gedoen en ’n staatsprokureur is aangestel. Die staatsaankaler, Gustav Schult het die hof versoek dat twee volle dae tersyde gestel word vir die formele aansoek, siende die erns en ingewikkeldheid van die bedrog en diefstal saak teen Vern.

Vern sal weer op 19 en 20 Februarie in die hof verskyn waartydens sy om borg sal aansoek doen. ’n Afvaardiging van Laerskool Delmas sowel as lede van die skool se beheerligggaam was by die hof teenwoordig.

Streeknuus het die voorsitter van Laerskool Delmas beheerliggaam, Marius van Staden, om kommentaar genader.


Larissa (Kruger) Vern.

Van Staden het egter aangedui dat hy, namens die beheerliggaam, op ’n later stadium ’n formele verklaring aan Streeknuus sou bekendmaak.

Ook by die hof teenwoordig was Vern se twee minderjarige kinders, haar suster en ’n vriendin. Vern, ’n weduwee, se dogters is intussen in die veilige sorg van ’n familielid op Delmas geplaas.

Op ’n vraag aan Vern se suster, CJ, oor hoe sy oor haar suster se in hegtenisname voel, was haar antwoord,

“Larissa is en bly my suster en ek sal haar bystaan. Ek wil verder ook net sê dat my suster nie alleen in hierdie ding was nie, daar moes nog mense betrokke gewees het en ek glo die waarheid sal uitkom,” het CJ bygevoeg.

Vern bly intussen in aanhouding in die polisieselle op Delmas.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Ridge Times in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button