Local newsStreeknuus

Gemeenskap vat hande om veldbrande in die Leeufontein-gebied te bestry

Andries du Plessis, ’n boer naby Firolaz Leeufontein, het groot brandskade gely.

Die gees van gemeenskapsamewerking was duidelik op 24 Julie tydens ’n reeks veldbrande wat boere en inwoners in die Firolaz Leeufontein omgewing bedreig het.

First Care Emergency het dadelik gereageer en saam met die brandweer en die brandvereniging het hulle onverpoosd gewerk om die brande te bestry.

Thomas Prollius, ’n lid van First Care, het gesê die dag was uitdagend, maar die gemeenskap het bymekaargekom om hul tyd en hulpbronne vrywillig te verskaf het.

“Plaaswerkers en boere het ook hul lewens in gevaar gestel om ander te red. Die ondersteuning was oorweldigend – mense het opgedaag met ekstra voertuie, trekkers en broodnodige hande om die brandbestryders by te staan.


Boorgatpype en ’n pomp is in die veldbrand beskadig.

“Hierdie kollektiewe poging het ’n kritieke rol gespeel in die bestuur van die situasie, en ons is innig dankbaar vir almal se bydrae.

“Vir ’n boer, wat elke dag met passie en toewyding werk om sy grond en vee te versorg, is ’n brand nie net ’n fisiese bedreiging nie, maar ook ’n emosionele skok.

“Om te sien hoe ’n mens se werk, toekoms en gemeenskap deur vlamme bedreig word, kan geweldige hartseer en frustrasie meebring.

“Tog, in sulke oomblikke is dit die solidariteit en ondersteuning van die gemeenskap wat ’n boer se hart warm maak en hoop bied dat enige uitdaging saam oorkom kan word,” het Prollius gesê.



Andries du Plessis, ’n boer naby Firolaz Leeufontein, het groot brandskade gely. Du Plessis het 200ha lande, grasbale, ’n boorgat en boorgatpype, watertenks en weiding in die veldbrand verloor.

Die vuur het ontstaan by ’n man wat houtskool maak naby Du Plessis se plaas. Dié man het glo weggejaag toe die veld vlamgevat het.

Toe Du Plessis by die brand opdaag, het die vlamme reeds oor’n treinspoor en die teerpad gespring.

Die vuur het toe in ’n bloekombos ingebrand. Teenbrande is gemaak om die vuur onder beheer te kry, maar toe draai die wind.


LEES OOK: Secunda-gesin vier 100 dae van geen aanvalle vir Zellie


“Terwyl ons die teenbrande maak het vlamme uit die bos gespring en versprei na die huise waar my werkers woon.

“’n Huis se deur het vlamgevat en ons moes dit natgooi om die huis te beskerm,” het Du Plessis vertel.
Sowat 30 voertuie is ingespan om die vuur onder bedwang te bring.

Almal het saamgewerk om die vuur te baklei en na ’n lang gesukkel het is die vuur onder beheer gekry.

Du Plessis en lede van First Care het beurte gemaak om in die aand uit te gaan om seker te maak dat die vuur nie weer opvlam nie.

“Dit is n wonderwerk dat ons die vuur gestop kon kry,” het Du Plessis gesê.


Related Articles

Back to top button