CrimeLocal newsStreeknuus

Verdagte in Cullinan se Johann Vyf-moord wil weer borgaansoek bring na vertraging in DNS-uitslae

“Sedert die inhegtenisneming het die saak min vordering getoon, grootliks weens die uitstaande forensiese verslae”.

Die gemeenskappe van Cullinan en Rayton wag in spanning saam met die familie en vriende van die vermoorde Johann van der Linde vir die verhoor van sy vermeende moordenaar om voort te gaan.

In die voortslepende verhoor van die beskuldigde Amos Modupi Mafemo (50) oor die moord op die GPF-staatmaker wat alom as Johann Vyf bekend gestaan het, het die staatsaanklaer op 11 Junie weer om uitstel gevra.

Die saak teen Mafemo is in die Cullinan-landdroshof vir nog twee maande uitgestel, hangende DNS-uitslae van die polisie se forensiese eenheid.

Die versoek kom ten spyte van groeiende frustrasie oor die vertraging van die saak, wat reeds verskeie kere uitgestel is. Die regsverteenwoordiger van Legal Aid, wat namens Mafemo optree, het in die hof gevra waarom dit so lank neem om DNS-uitslae te ontvang.

Die polisie het in reaksie aangevoer dat daar tans ’n ernstige agterstand by die forensiese laboratoriums is, en dat DNS-toetse soms tot ’n jaar kan neem om af te handel.

Die beskuldigde het intussen aangedui dat hy weer ’n borgaansoek wil indien, gegrond op die feit dat hy lank aangehou word sonder konkrete DNS-bewyse.


LEES OOK: SAVF wil babahuis op Secunda oopmaak


Volgens raadslid Johannes Bekker is die staat egter gekant teen die borgtogaansoek en het aangevoer dat daar geen nuwe feite is wat ’n verandering in die vorige beslissing regverdig nie.

“Die moordsaak van Van der Linde hou steeds die aandag van die publiek vas, en die vertraging in forensiese uitslae wek toenemende kommer oor die doeltreffendheid van die strafregstelsel,” het Bekker bygevoeg.

“Sedert die inhegtenisneming het die saak min vordering getoon, grootliks weens die uitstaande forensiese verslae.”

Die hofsaak volg op die dood van Van der Linde, wat op 3 September 2024 op ’n inbraakverslag in die Rayton-omgewing gereageer het. Hy het die verdagte agterna gesit, maar hom in die lem van die vermeende inbreker, nou beskuldigde moordenaar vasgeloop.

Van der Linde is na ’n hospitaal in Pretoria vervoer waar hy ’n noodoperasie ondergaan het, maar sy toestand het versleg en op 20 September het die veiligheidsheld tragies gesterf.

Van der Linde het glo tydens die aanval die beskuldigde se hemp vasgegryp, en toe hulp later opdaag, was die hemp steeds in sy besit. Dit is juis dié kledingstuk waarvan die DNS-ontleding die regsproses tans vertraag.

Die beskuldigde was kort na die aanval op Van der Linde in hegtenis geneem en bly in aanhouding nadat vorige borgaansoeke onsuksesvol was.



LEES OOK: Nagmerriepoppe beveilig Standerton-inwoner se erf

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Ridge Times in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button