VIDEO/KYK: Inisiatief begin ná publiek geld skenk om beseerde rugbyspeler van Bronkhorstspruit te help
Rico Eagles is Sondag geopereer en sterk tans in die Eugene Marais Hospitaal aan.
Rico Eagles, ‘n 22-jarige rugbyspeler van Bronkhorstspruit sterk tans aan van ’n nekoperasie ná hy twee weke gelede in ’n klubrugbywedstryd op Bronkhorstspruit beseer is.
Rico was op 27 Julie eers na die staatshospitaal op Bronkhorstspruit gehaas, maar was weggewys omdat die radiografie-afdeling toe was.
Hy is toe in die staatshospitaal in Mamelodi opgeneem waar hy in traksie was terwyl hy onbepaald moes wag om geopereer te word.
Die laaste strooi vir Rico se ouers, Marcus en Lorraine, was toe die penne wat in Rico se kop geplaas is, uitgeskeur het.
’n BacknBuddy-rekening is geopen danksy ’n vrou wie se eie seun ook vroëer vanjaar ’n rugbyverwante besering opgedoen het. Die geld het oornag ingestroom – genoeg dat Eagles Saterdag na Eugene Marais Hospitaal oorgeplaas kon word.
Dr. Helene Basson van Operation Healing Hands het Sondag op Rico opereer.
Die Rico Eagles Inisiatief is nou begin om ook ander rugbyspelers wat beserings opdoen maar nie mediese dekking het nie, by te staan.
Volg die Rico Eagles Initiative Facebook-blad hier: https://www.facebook.com/share/16g1q2pgXx/



