Local news

Secunda-fotograaf ontluik as model vir klerereeks

Chantél Rottcher wen kompetisie om Loka se groter klere bekend te stel.

’n Plaaslike fotograaf, Chantél Rottcher (35), het nog altyd daarvan gedroom om ’n model te wees, maar was steeds verbaas toe dit uiteindelik gebeur het.

Rottcher het ’n kompetisie op Facebook gesien waar die klerereeks, Loka, ’n model gesoek het om hul groter kleregroottes bekend te stel.

“Ek het gedink: ‘Ek dra ’n XL-grootte, kom ek skryf in en kyk wat gebeur’,” het Rottcher vertel.

Smiling woman in denim jacket and floral pants against blue background, casual fashion, Ridge Times local news feature.
Chantél Rottcher. Foto: Verskaf

Sy moes onder andere ’n 30 sekonde-video stuur waar sy haarself voorstel en later in die kompetisie moes sy video’s stuur waar sy as model loop.

Die publiek kon ook stem vir hul gunsteling model. Rottcher is uit sowat 700 inskrywings as die wenner aangewys en as die nasionale Lokamodel gekies.

“Dié kompetisie het vir my baie deure oopgemaak en geleenthede aangebied,” het Rottcher vertel.

woman in a maxi dress
Chantél Rottcher poseer in een van Loka se rokke. Foto: Verskaf.

Sy is onder meer genooi om na die Mevrou Suid-Afrika-skoonheidskompetisie te gaan kyk en iemand daar het haar aangemoedig om self volgende jaar vir die Mevrou Kurwes Suid-Afrika in te skryf.

Rottcher het van kleins af daarvan gehou om by die huis soos ’n model te loop. Sy het egter nooit by ’n modelskool aangesluit nie, maar wel aan kompetisies deelgeneem.

Buiten haar lyf model en fotograaf te hou by haar onderneming, Liefling Fotografie, het Rottcher ook onlangs haar eie onderneming as voorkomskonsultant begin.

couple poses in denim
Chantél Rottcher en haar man, Reino, poseer saam in Loka se klere. Dié klerereeks het ’n paar mansuitrustings ook uitgebring. Foto: Verskaf.

Een van die eerste dinge wat Rottcher geleer het by Alette Winckler, wat die voorkomskonsultant kursus aangebied het, is dat vroue eers van binne gesond moet word om dan van buite mooi te lyk.

Rottcher het reeds baie planne vir vanjaar en beplan om haar eie lipstiffie-reeks te maak en bekend te stel.
Sy besef hoe waardevol die lewe is omdat sy al by die dood omgedraai het.

Rottcher is ’n tipe 1-diabeet en moet vyf keer daagliks insulien inspuit.

Sy het in Februarie vanjaar een oggend wakker geword en nie lekker gevoel nie.

woman in evening wear
Dié rok wat deel is van die Loka-reeks, is na Chantél Rottcher vernoem en staan bekend as die Chantél-rok.
Foto: Verskaf.

“Ek was naar en het in 12 ure amper 30 keer opgegooi,” het sy vertel.

Haar man, Reino Rottcher, het haar hospitaal toe geneem waar sy vir drie dae in die intensiewe sorgeenheid moes bly.

Sy moes elke uur 20 eenhede insulien kry. Baie mense bid vir Rottcher en sy glo die Here het haar reeds genees.

“Ek wil elke dag voluit leef en al die talente wat die Here my gegee het gebruik.”

woman poses as model
Chantél Rottcher is as die nasionale Lokamodel vir ekstragroot klere gekies. Foto: Verskaf.

Rottcher sien haar nuwe werk as voorkomskonsultant as ’n geleentheid om vroue op te lig, te bemoedig en hulle te help om die beste weergawe van hulself te wees.

As sy nie agter ’n kamera se lens staan, iemand raad gee oor hul voorkoms of Loka se klere modeleer nie, bestee sy graag tyd met haar man en twee dogters, Danélle (10) en Miané (8), vriende en geliefdes of sy sing in die kerk se aanbiddingsspan.

woman and two girls in similar outfits
Chantél Rottcher in een van Loka se uitrustings, saam met haar twee dogters, Danélle (10) en Miané (8) wat in dieselfde klere model speel. Foto: Verskaf.

Sy wil mense aanmoedig om soms ’n kans te vat en hul drome uit te leef. “Jy het net een lewe,” het Rottcher afgesluit.

model in one piece
Chantél Rottcher is as die nasionale Lokamodel vir ekstragroot klere gekies. Foto: Verskaf.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Ridge Times in Google News and Top Stories.

Jana Oosthuizen

I have been working for the Ridge Times newspaper for 15 years. I worked in a few other fields before starting to work for the newspaper in October 2009. I have a diploma in Journalism and the areas where I cover news include Secunda, Bethal, Trichardt, Evander, Leandra and Kinross.

Related Articles

Back to top button