Met Louise Fischer (37) aan die stuur van sake het Ons Winkel op Bethal twee toekennings ontvang.
Fischer het by ’n glansgeleentheid, wat in Desember in Pretoria gehou is, die toekennings ontvang.
Ons Winkel is ’n inisiatief van Helpende Hand en fokus spesifiek daarop om kinders wat dit nie kan bekostig nie, te help om verder te studeer.
Fischer is beloon met toekennings vir die winkel wat die beste omset groei getoon het in 2025 asook nasionaal die beste omset groei.
Al die Ons Winkel-takke landswyd is in verskillende afdelings volgens hul groottes ingedeel en Ons Winkel Bethal het in die oranje afdeling ingeskryf.
Fischer het in Julie verlede jaar as eienaar by Ons Winkel oorgeneem en het eers as onderwyser vir ’n aanlyn-skool gewerk voordat sy die winkel oorgeneem het.
Sy het al by verskeie skole in die omgewing gewerk en geniet nou die nuwe seisoen as winkel-eienaar.
Fischer het die gemeenskap genooi om Ons Winkel in Clerqstraat op Bethal te besoek en gesê daar is iets van alles.
“Dit is ’n interessante winkel en inwoners sal beslis iets ouliks hier kan koop,” het Fischer gesê.
Sy het die gemeenskap vir hul ondersteuning en skenkings bedank en sien uit daarna om vanjaar verder ’n pad met die gemeenskap te stap.
Fischer en haar man het vyf kinders en as sy nie by die winkel besig is nie, ry sy die kinders rond na sport- en buitemuurse aktiwiteite.



