Skool se Fin Tastic-kompetisie lok meer as 100 hengelaars na Grootdraaidam
Brian van Tonder het ’n baber van 10.46kg vasgekap.
Laerskool Kalie de Haas se Fin Tastic-hengelkompetisie het die naweek vir die inweeg van ’n paar kneuwels gesorg. Die kompetisie is by die Grootdraaidam gehou met 108 deelnemers van alle ouderdomme.
Brian van Tonder se baber van 10.46kg het die monde laat oophang en vir hom die eerste plek onder die seniors verseker.
Corné Moll het ’n tweede plek behaal met ’n baber van 9.28kg. Natassja du Preez was derde onder die seniors met ’n barber van 5.98kg.
Stefan Davel se 5.64kg-karp het van hom ’n wenner onder die seniors gemaak. Johan Verster was tweede met ’n karp van 4.04kg en Louis Peens was derde met ’n karp van 3.90kg.
Frik Verster het ’n karp van 3.82kg ingeweeg wat aan hom die eerste plek onder die junior hengelaars besorg het.
Jano Momberg was tweede mt ’n karp van 3.40kg. Hy het egter ’n baber van 6.40kg vasgekap en so juniorafdeling vir die grootste baber gewen.
Elé Rijsbergen was tweede met ’n baber van 5.98kg. Die organiseerder, Beandri Groenewald, is vir al haar werk bedank.





