Medelye stroom in op sosiale media na bekende joernalis van Standerton sterf
Die Standerton Advertiser en Ridge Times betoon ons medelye aan Alida Lake se gesin en geliefdes.
Mede-joernalis en ’n geliefde figuur van Standerton, Alida Lake, se lewe word om 11:00 op 19 Maart vanuit die Replika/Standerton Teatro op Standerton gevier.
Lake is op 14 Maart in die Mediclinic Highveld op Trichardt dood.
Sy sal in die gemeenskap en in media-kringe onthou word vir haar toewyding aan haar beroep en haar gemeenskap. Lake was vir jare ’n joernalis by die Standerton Advertiser voor sy die Standerton Chronicle saam met Hanlie Viljoen begin het.
Huldeblyke en medelye het sedert Saterdag op gemeenskapgroepe, WhatsApp-groepe, Facebook en die Chronicle se Facebookblad ingestroom.
Lake se familie was nie gisteroggend vir kommentaar beskikbaar nie, maar het later die dag die volgende inskrywing op die Chronicle se blad geplaas:
“Dit is met groot hartseer dat ons die gemeenskap in kennis stel dat Alida Lake op 14 Maart oorlede is. Die gedenkdiens sal plaasvind op 19 Maart om 11:00 by Replika / Standerton Teatro, Colignystraat 52, Standerton. Familie, vriende, lesers en lede van die gemeenskap word hartlik uitgenooi om saam met ons haar lewe te vier en hulde te bring aan die verskil wat sy in soveel mense se lewens gemaak het. Vir diegene wat nie die diens persoonlik kan bywoon nie, sal dit regstreeks uitgesaai word op die Standerton Chronicle se Facebook-blad. Ons wil ook ons opregte dank uitspreek aan die gemeenskap vir die liefde, gebede en ondersteuning gedurende hierdie moeilike tyd.”
Die Standerton Advertiser en Ridge Times wil hiermee ook ons medelye aan haar gesin en geliefdes betoon. Lake was vir ons ’n moedige voorbeeld van ’n plaaslike joernalis, wat ten spyte van struikelblokke, steeds ’n bydrae tot haar gemeenskap gemaak het.



