Standerton Rolbalklub beloon spanne in besigheidsliga
Wian Starbuck is as die beste speler in die Dinsdagliga aangewys.
Die Standerton Rolbalklub bied sedert 2023 twee keer per jaar met groot sukses twee besigheidsligas aan. Die een seisoen vind in Februarie en Maart plaas en die ander strek van Sepember tot November.
Hierdie kompetisies het ’n stewige plek in die gemeenskap verwerf en lok elke seisoen sowat 100 spelers wat op Dinsdae en Donderdae saans van 18:00 tot 20:00 meeding.
Die ligas word afgesluit met halfeindstryde en ’n eindstryd, waar die kampioenspanne gekroon word.
Wat hierdie liga besonders maak, is dat sowat die helfte van die spanne uit werknemers van plaaslike besighede bestaan, terwyl die res uit familie- en vriendekringe saamgestel word.
Dit bied nie net ’n geleentheid vir gesonde kompetisie nie, maar ook vir sosiale samekoms en gemeenskapsbou. Rolbal is ’n sport vir alle ouderdomme – van jong kinders tot volwassenes.

Die Nasionale Junior Kampioenskap vind tans in Bloemfontein plaas (29 Maart – 1 April) met 67 spanne wat in drie ouderdomsgroepe deelneem (o15, o18 en o25).
“Die idee dat rolbal slegs vir “ou mense” is, is eenvoudig verkeerd,” het Hennie Pretorius van die die Standerton Rolbalklub vertel.
Die klub bied twee kategorieë van lidmaatskap: vol lidmaatskap met registrasie by Rolbal Suid-Afrika wat deelname aan provinsiale en streekkampioenskappe bied; of sosiale lidmaatskap met die kans om plaaslik en aan vriendskaplike kompetisies deel te neem.
“Op dié manier kan elkeen ’n plek vind wat by hul behoeftes pas.”
Die Standerton Rolbalklub nooi nuwe lede en belangstellendes om deel te word van hierdie unieke sport en gemeenskapservaring. Vir meer inligting, skakel Hennie Pretorius op 082 857 7302.






