AfriForum maak verskil op Bethal en Secunda
Raak betrokke by AfriForum en beteken iets vir jou dorp.
Beide Bethal en Secunda se AfriForum buurtwagspanne het hul moue opgerol en ’n verskil in dié twee dorpe gemaak in Junie.
Die Bethalspan het voortgegaan met hul projekte om die dorp skoon en netjies te maak en meer as 220 sakke vol vullis en gesnyde gras is verwyder.
Hulle het ook die gebied op die hoek van Eeufees- en Damwalstraat skoongemaak en vullis verwyder.
Die gras in die gebied rondom die DBV op Bethal is ook skoongemaak en die gras is gesny en enige voorwerp wat gereeld deur leeglêers gebruik word om brande in dié gebied te stig, is verwyder.
Die gebied langs die N17 is ook skoongemaak en die gras gesny asook by die Bethal Polisiestasie.
Buiten dié skoonmaak-aksies, het die span ook slaggate in ’n deel van Tsibitso Sibanyoni- en Van Riebeeckstraat gevul.
Inwoners het hande geneem met AfriForum se buurtwagspan om dié aksie moontlik te maak n vir koue asfalt wat gebruik word om die slaggate te vul, betaal.

Meer as 60 sakkies koue asfalt is gebruik en AfiForum se span het ook verskeie ander strate op Bethal opgeknap deur doloriet te gebruik om die slaggate mee te vul.
Meer as 23 ton doloriet is vir dié aksie gebruik.
“Daar is byna geen doeltreffende dienslewering oor vir inwoners in Bethal nie,” het Hennie Bekker, AfriForum se distrikskoördineerder in die Hoëveld, gesê.
“Die buurtspan het inderdaad die dorp se enigste hoop geword.
“Alhoewel Govan Mbeki Munisipaliteit deesdae iets doen word ons nie geflous deur die politieke speletjies voor die opkomende verkiesing nie.”
LEES OOK: Residents in eMbalenhle demand permanent solution to recurring sewage spills
AfriForum se buurtwagspan op Secunda het ook nie slap gelê nie en meer as 600 sakke vullis verwyder gedurende Junie.
Tydens hul skoonmaakprojekte is meer as 26 hektaar se gras gesny en AfriForum het ook gehelp met voorbereiding vir die TWK-bergfietswedren wat deur Laerskool Secunda aangebied is.
Die buurtwagspan het ook die omgewing rondom die eendedam asook Vaalrivier-, München-, Delgoa- en Boshoffstrate, skoongemaak.
Verder het die buurtwagspan saam met Govan Mbeki Munisipaliteit se eenheid vir wetstoepassing gewerk en haweloses wat in die bos geslaap het, en ook na bewering kinders beroof het, verwyder en die vullis opgeruim.
Jan du Plessis, voorsitter van AfriForum se Teks-tak op Secunda, het gesê: “Dié span maak daagliks ’n verskil in inwoners se lewens.
“Hoe vinniger ons die span kan uitbrei en laat groei hoe beter sal dit vir die gemeenskap wees. Ons kan nie net terugsit en wag vir beter dinge om te gebeur nie. Ons moet dit laat gebeur.”



