Heidi Kleuterskool en Laerskool Delmas bring goeie nuus
“Ons het selfs al derde geslag-Delmassers deur ons opvoedingskanale gehad.”
Laerskool Delmas is ’n skool bekend vir die passie en drif waarmee hulle vir elke leerder, van gr.1 tot gr. 7, net die heel beste bied.
Laerskool Delmas het sy deure op 25 Januarie 1910 geopen met ’n totaal van 34 leerders.
Nog ’n skool met diep herinneringe vanuit die argiewe is Heidi Kleuterskool.
Dié skool het sy deure op 26 Julie 1965 geopen.
Daar het op daardie dag 11 kleuters oor die drumpel gestap.
“Vir albei hierdie skole is die gemeenskap se kinders egter ’n prioriteit, ’n beginsel wat tot vandag toe nog geld,” het Riëtte Wheller, hoof van Heidi gesê.
“Dit is vir die rede dat Laerskool Delmas en Heidi gereeld hande vat en mekaar ondersteun in verskeie aktiwiteite.”
Beide Heidi Kleuterskool en Laerskool Delmas roem daarop dat hulle met rasse skrede groei en so het menige Delmas-maats dan ook deur die jare oor albei se drumpels gestap tydens hul opvoedingsjare.
“Ons het selfs al derde geslag-Delmassers deur ons opvoedingskanale gehad.”
Gedurende Maart 2011 het die departement van onderwys die groen lig gegee en kon Heidi as ’n satelliet graad R-skool vir Laerskool Delmas dien.
Volgens Laerskool Delmas shoof, Johan de Beer, het die Covid-19-pandemie baie ontwrigting gesaai.
“Dit was geen maklike besluit nie, maar die skool se koshuisdeure moes permanent sluit.”
Volgens die twee skoolhoofde het dit egter nuwe deure oopgemaak, want met spanwerk was die besluit geneem om die ou koshuis vir Heidi se graad R’e beskikbaar te stel.
Nuwe wetgewing is in April vanjaar deurgevoer waarby die vroeë kinder- ontwikkelingsentrums (VKO), wat onder die vleuel van die Departement van Sosiale Ontwikkeling gestaan het, in geheel deur die Departement van Basiese Onderwys oorgeneem is.
Dit het ’n paar belangrike skuiwe in die voorskoolse bedryf tot gevolg gehad.
“Onder andere het gepubliseerde wetgewing vereis dat alle laerskole se grondslagfase voortaan ook Graad R moet insluit,” het Wheller gesê.
Heidi Kleuterskool se graad R-leerders is reeds goed ingeburger by Laerskool Delmas en die departement die het die besluit geneem dat Heidi se graad R’e vanaf 1 Januarie 2023 volledig by Laerskool Delmas sal inskakel.
“Heidi gaan egter voort om die assosiasie-skool vir Laerskool Delmas te wees,” het Wheller bygevoeg.
Albei skole onderneem ook om steeds die gemeenskap se kinders se belange op die hart te dra.
“Mag albei ons skole vir nog baie geslagte van krag tot krag gaan en saam groei en uitbrei,” het De Beer afgesluit.
Vir 2023-inskrywingsnavrae kan die onderskeie skole gekontak word.
Heidi Kleuterskool – 082 946 9507 / 013 665 3011
Laerskool Delmas Primary – 013 665 2017



