Nesher-leerder verwerf Proteakleure in ringbal
“Timothy het nog skaars begin om ringbal te speel en hier verwerf hy reeds sy kleure en kwalifiseer om as ’n junior Protea vir Suid-Afrika te speel.”
Die 11-jarige Timothy Venter het sommer gou gewys dat hy hope talent het wanneer dit by ringbal kom.
Timothy, ’n leerder van Nesher Privaatskool op Eloff het vanaf 3 tot 9 Julie aan die SA-toernooi as deel van Ekurhuleni-oos se 0/11-span by Korfbalpark in Gezina, Pretoria op die baan gedraf.
Timothy se afrigter, Hendrik Hattingh, self ’n houer van Proteakleure in korfbal, gesels trots oor Timothy se groot prestasie.
“Hy het nog skaars begin om ringbal te speel en hier verwerf hy reeds sy kleure en kwalifiseer om as ’n junior Protea vir Suid-Afrika te speel,” het Hattingh Streeknuus meegedeel.
Volgens Hattingh, het 54 spelers in Timothy se ouderdomsklas deelgeneem.
Timothy is een van nege deelnemers wat gekies is.
“Hy het hope talent en ons sien uit daarna om Timothy verder op sy pad na sukses in die korfbal-geledere te ondersteun.”

Vir Timothy lê daar nou nog twee wedstryde voor voordat die groot gala-aand aanbreek.
Hattingh is vol vertroue dat Timothy hier ’n prys of twee kan opraap.
“Blootstelling aan Timothy se gunsteling-sport is volop, want hy sal ook later aan die skoletoernooi deelneem,” het Hattingh verder genoem.
Nesher Privaatskool se hoof, Lizette van Onselen, het ook haar trots uitgespreek.
“Dit is vir ons ’n voorreg om ’n Protea-ringbalspeler in ons midde te hê en ons glo dat Timothy nog groot hoogtes sal bereik.”



