Hoërskool Erasmus bring top musiekblyspel op die planke
Dié jaarlikse instelling bied talle leerders die geleentheid om deel van ware Erasmus-veelsydigheid onder die skool se vaandel van kultuur, sosiaal en landbou te vorm.
Vanjaar se musiekblyspel, “Alice’s Hippodrome” het gehore op hul voete gehad en vir groot vermaak in Bronkhorstspruit-geledere gesorg.
Hoërskool Erasmus se 2022-aanbieding van “Alice’s Hippodrome” het oor vyf dae, vanaf Maandag, 5 tot Vrydag 9 September, gestrek en het die bekende sprokiesverhaal van Alice in Wonderland met ’n unieke en vars aanslag aan die kykers gebied.

Dié jaarlikse instelling bied talle leerders die geleentheid om deel van ware Erasmus-veelsydigheid onder die skool se vaandel van kultuur, sosiaal en landbou te vorm.

“Ons is vanjaar besonder geseënd met die talentvolle kunstenaars wat uit Hoërskool Erasmus se geledere spruit.
“Dié groep het in die spore van hul voorgangers ontwikkel tot kunstenaars waarna elke voornemende deelnemer met trots kan opkyk,” het Anneke Jones, revue-organiseerder, gesê.

“Dit was vir ons ’n voorreg om die paadjie op die verhoog saam met elke leerder te stap en om te sien hoe hulle letterlik voor ons oë tot opregte verhoogsterre ontwikkel het.”
Jones het elkeen wat deel was van die groot sukses van vanjaar se revue bedank.
“Moet ook nie die leerders wat agter die skerms gewerk het, vergeet nie, want sonder hulle sou die produksie nie moontlik gewees het nie.”






