Ek dink almal op Bethal is nou keelvol vir kragonderbrekings en swak waterdruk of geen water.
Ek het nog nooit versuim om my munisipale rekeninge te betaal nie, maar ’n gat vol paaie, geen straatligte en nou krag en waterprobleme is nou genoeg.
Bethallers is deel van Goven Mbeki Munisipaliteit en het al die probleme, maar as ek met vriende in Secunda praat, ondervind hulle nie dié probleme nie.
Wat is die verskil dan?
Hoekom het hulle dienste wat hulle kan vertrou en ons nie?
Praat ek met my tuinwerker, het hulle kragonderbrekings, maar nog al die pad water.
Hoekom sukkel ons dorp dan met water?
Ek bak koeke en my vriendin beskuit. Net soos ander wat daagliks krag nodig het in hul daaglikse huishoudings en besighede het ons krag nodig om ’n inkomste te verdien, maar o wee, die deeg is halfpad in die oond dan gaan die krag af sonder waarskuwing en geen storm wat dit kon veroorsaak nie.
Genoeg is genoeg, ek moet my eiendom spoedig verkoop want om vir dienste te betaal wat jy nie kry nie, is belaglik.
Die Govan Mbeki Munisipaliteit steel my geld en verhinder my om ’n inkomste te verdien.
As jy die klagtelyn skakel hou jy of ure aan of daar is geen antwoord nie.
Indien jy antwoord kry, is die antwoord, “Ons is bewus van die probleem en het ’n voertuig uitgestuur.”
Wel ja Maandagaand en Dinsdagaand se voertuig het sekerlik meer as as ’n 1000km afgelê as mens kyk van wanneer die voertuig uitgestuur is en tot wanneer die krag weer aangeskakel word.
Die mense wat telefone by DIE klagtelyn beantwoord, is onbevoeg en lieg blatant, dis mos onaanvaarbaar. Ek dink as daar ’n opname op Bethal gemaak word oor hoe inwoners voel, sal die koerant meer as 200 blaaie moet druk.
Is munisipale werkers bevoeg om die werk te doen aan transformators en waterstelsels?
As hulle is, waarom is daar dan voortdurend probleme?
Die gerieflikste verskoning is dat daar nie geld beskikbaar is nie, maar waar de duiwel is al die geld heen?
As daar ’n tekort is weens kragdiefstal, doen iets daaraan of as rekeninge nie betaal word nie, doen iets daaraan, maar hoekom moet gereelde betalers daaronder ly?
Word kontrakte aan misbaksel tenders toegestaan of verdwyn dit in die agtersakke van onbevoegdes?
Genoeg is genoeg en dis tyd dat Carte Blanche Bethal kom besoek sodat ons probleme aan die land gewys word en sodat onbevoegdes in die munisipaliteit die pad kan vat en ons ons dorp weer ’n dorp kan noem wat dienste lewer waarop ons kan vertrou.
Die Ridge Times moet Bethallers se stemme hoor en ’n opname wat in die koerant geplaas kan word, doen.
Sanette Henning, Bethal.