LettersOpinion

Ore rooi oor krag

Die nuwe naam vir Bethal moet “Promises” wees.

Is daar nog enige vorm van dienslewering deur die Govan Mbeki Munisipaliteit op Bethal?

Ons het Dinsdag besoekers vanaf Pretoria, Newcastle en Ermelo ontvang.

Op ons vraag hoe het julle gery, was almal se antwoord “heerlik, totdat ons in Bethal gekom het.

“Mensig maar julle dorp se strate is meer gate as straat, dit voel of ons op ’n plaas in ’n geploegde land ry, dink ons dit is ’n waterplas in die teerpad, dan is dit ’n gat waaruit ons moet probeer kom en hoop die bande van die motor is nie beskadig nie.

“Hoe hou julle wat hier bly se voertuie dit?”

Met rooi ore moes ons antwoord, dit is ongelukkig hoe swak die instandhouding op Bethal is.

“Maar betaal julle nie belasting nie?”

Ja ons betaal belasting, maar weet regtig nie waarvoor nie.

Na ’n heerlike kuier Dinsdagaand gaan slaap ons, net om Woensdagoggend omstreeks 12.30nm wakker te word en te sien die krag is af.

So sit ons weer met rooi ore voor ons gaste en vra verskoning oor die krag af is, met die hoop dat dit nou-nou sal aankom.

Ons meld dit aan by oproepsentrum omstreeks 8.30vm, maar die dag vorder en daar is geen krag nie.

Ons meld dit maar weer aan en pleit die keer en die antwoord wat ons kry is: “daar is baie kragprobleme wat herstel moet word.

Die dag is verby en steeds geen krag, die nag verby, geen krag nie.

So kom ons by Donderdagoggend, ons skakel weer om dit aan te meld. Baie onvergenoeg is die persoon omdat ons dit waag om weer te skakel.

Ons is nou reeds 30 uur sonder krag.

“Die elektrisiëns het baie werk, hulle sal dit herstel sodra hulle tyd het,” is die antwoord.

“Julle het werklik geen dienste nie,” is ons gaste se opmerking.

Vrydagoggend kom, nog geen krag nie en die gaste sê dat hulle regtig nie langer kans sien om by ons te kuier nie, omdat hulle nie die kinders kan bad nie.

“Die baba se bottels kan nie gesterliseer word nie, julle moet asseblief in die toekoms liewers by ons kom kuier.”

Ons ore word net rooier en die verleentheid al groter, die eens pragdorp het verander na strate vol gate en huise sonder krag.

Die nuwe naam vir Bethal moet “Promises” wees.

Dankie aan Zanele en Unice van die oproepsentrum wat werklik probeer het om ons te help.

Rooi ore inwoner

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
Stay in the know. Download the Caxton Local News Network App here.

Related Articles

Back to top button