
Ek dink regtig dit is tyd dat ons moet opstaan in dié dorp van ons.
Daar is baie dinge op Secunda wat nie reg is nie.
Ek lees weekliks die koerant en daar is nie ’n week wat verbygaan waar daar nie klagtes is nie, van tot straatligte wat nie werk nie tot bourommel en vullis wat langs die pad gestort word, soos langs die pad tussen Evander en Secunda.
Regtig mense, wat doen ek en jy omtrent dit?
Niks, want ons neem eerder die arme munisipaliteit kwalik.
Hulle moet mos altyd die skuld vir alles kry, maar ek en jy sit rustig by die huis en televisie kyk en drink ’n bietjie of braai ’n lekker stuk biefstuk of wors.
Kom, mede-inwoner van Secunda, kom ons staan op vir ons dorp en help om ’n verskil te maak en ons dorp weer skoon en leefbaar te maak.
Ek wil graag al die inwoners nooi om met voorstelle en planne te kom oor wat ons kan doen om ons dorp weer reg te maak.
Alle planne en voorstelle kan aan ons plaaslike koerante, die Ridge Times en die Echo, gestuur word en hulle sal sorg dat die regte persone dit kry en dat dit deurgevoer word.
Inwoner, Secunda.



