LettersOpinion

Geloftedag, reg of weg?

Vier jy nog Geloftedag en hoe vier jy dit?

Dit is weer daardie tyd van die jaar.

Ons skakel af, besin oor ’n jaar wat verby is, maak planne vir ’n nuwe jaar wat voorlê, tyd vir nuwejaarsvoornemes, dit is Kersfees en ’n tyd vir families om bande feestelik te hernu.

Dan kom 16 Desember, Geloftedag.

Ons is almal van kindsbeen af daaraan gewoond, maar wat maak ons op daardie dag?

Tydens die Groot Trek het Andries Pretorius op 9 Desember 1838 ’n gelofte gedoen dat, as God vir die trekkers ’n oorwinning oor die Zoeloemag gee, hulle ’n kerk sal bou en dié dag en datum elke jaar soos ’n Sondag sal herdenk.

Hierdie gelofte bind dan ook hul nageslag.

Die oorwinning is op Sondag 16 Desember 1838 teen ’n groot oormag behaal en etlike jare later is die Geloftekerkie gebou en het Geloftedag sy beslag gekry.

Oor baie jare is Gelofdedag in Suid-Afrika gevier.

Ek het in die Oos-Vrystaat grootgeword waar daar etlike Geloftefeesgebiede was wat deur die jare afskuwelik verwaarloos is.

Daar is egter jaarliks aan die begin van Desember grasgesny en die geboue is effens opgeknap om voorsiening vir die feesvieringe wat op 16 Desember plaas gevind het, te maak.

Tydens dié fees is daar gewoonlik ’n kort erediens gehou waarna die res van die dag ’n politieke kleur gekry het.

Dit was die een politiek opruiende toespraak na die ander met die uiteindelike hoofspreker, wat gewoonlik die plaaslike parlementslid of as dit moontlik was, ’n minister of adjunk-minister was, wat normaalweg met ’n groot politieke retoriek die gehoor opgesweep het.

Van ’n Sondag of ’n Sondagstemming was daar by hierdie feeste geen sprake nie.

Dit is dan ook so dat godsdiens en nasionalisme tydens hierdie feeste skaamteloos vermeng is.

Nadat Suid-Afrika in 1994 ’n demokrasie geword het, het ek op Krugersdorp waar ek destyds gewoon het, ontdek dat die hoofsprekers by die Geloftefeeste in die algemeen verregse politici of leiers van verregse organisasies was.

Skielik was dit nie meer godsdiens en nasionalisme wat skaamteloos vermeng is nie, maar godsdiens en ’n verregse ideologie.

Persoonlik het ek gevoel dat ons die gelofte van 1838 moet eerbiedig en nakom, maar ek kon myself reeds as kind en veral as volwassene glad nie versoen met die opruiende politieke kleur wat die dag gehad het nie.

As gesin het ek, my vrou en twee kinders nooit hierdie feeste bygewoon nie, bloot omdat ons ons nie met die vermenging van godsdiens en politiek kon vereenselwig nie.

Die datum, 16 Desember, het in Suid-Afrika ook ’n ander betekenis.

MK, die militêre vleuel van die ANC, is op 16 Desember 1961 gestig, ’n gebeurtenis wat vir ander groepe in ons land ook ’n besondere betekenis gekry het en hierdie dag myns insiens verder verpolitiseer en verdeeldheid bevorder het.

Ons praat vandag van Versoeningsdag en ek vertrou dat ons in Suid-Afrika werklik versoening sal kan bewerkstellig.

Ons kan dit egter net doen as ons onsself verootmoedig en bereid is om werklik met ander groepe saam te werk.

Ons kan dit ook net doen as ons dit in geloof in God drie-enig doen.

In Efesiërs 2:14 sê Paulus: “Deur [Christus] sy liggaam te gee, het Hy vyandskap afgebreek wat vroeër soos ’n muur skeiding gemaak het.”

Hy voeg dan ook by in Efesiërs 2:15-16 dat Hy in Homself dié twee, Jode en nie-Jode, tot een nuwe mensheid verenig.

Deur sy dood aan die kruis het Hy ’n einde gemaak aan die vyandskap en dié twee met God versoen en tot een liggaam verenig.

As alle groepe in Suid-Afrika, ongeag ras en politieke affiliasie, dít kan doen en in hierdie gees na 16 Desember kyk, sal ons werklik een nuwe mensheid in hierdie land kan vorm omdat Christus reeds alle vyandskap wat soos ’n muur skeiding gemaak het, afgebreek het.

Charles Biggs, Secunda.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Ridge Times in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button