LettersOpinion

Staan saam

Nog voor jy kan stryk, is die krag al weer af.

Graag wil ek van dié geleentheid gebruik maak om dankie te sê dat van die DA-leiers van Secunda bereid was om ’n vergadering op Bethal te roep.

Ek wil ook geluk sê aan die mense wat tydens verlede Woensdag se vergadering verkies is, naamlik Michelle, Walter, Henry, Oom Wim, Leenerd en Sanet.

Hoop dat julle baie ondersteuning sal kry en dat julle ’n verskil sal kan maak.

Ek dink van die inwoners sal met my saamstem dat hulle reeds die afgelope week baie behulpsaam was tydens die kragonderbrekings.

Weet julle wat, dit is nou regtig nie meer grappies nie.

Almal weet ons krag was verlede week af.

Maar wat te erg is is te erg.

Die beste van alles is, daar word vir elkeen ’n ander storie vertel: die kabels is gesteel, die substasie is onder water en hulle kan nie in die water werk nie of hulle antwoord eenvoudig net nie die telefone nie.

Die lede se krag is ook af, maar weens lojaliteit teenoor die gemeenskap probeer hulle nog die telefone te herlaai en antwoord elke oproep, ongeag die snedige antwoorde en klagtes wat hulle moet hanteer.

Mnr. Van Baalen, dankie vir jou ook, nou weet ek hoe jy moet voel en jy was alleen.

Nou het jy hulp.

Die DA-lede moet hul telefone antwoord, maar die oproepsentrum mag hul telefone van die mikkie afhaal en die arme een elektrisiën antwoord ook nie sy foon nie want hy is alleen.

Dankie Johan.

Hoekom het Bethal net een elektrisiën en waar is sy hulp?

As die oproepsentrum nog die foon optel, sal ons hoor Bethal het nie ’n cherry picker nie en hulle wag vir een vanaf Secunda.

Hoeveel uitgawes moet ’n mens nog aangaan?

Ek het ’n kragopwekker gaan koop.

Ons is twee huishoudings op een erf, net om die noodsaaklike goed te kan trek.

Dit kos my bykans R200 daagliks vir brandstof.

In die algemeen kan die wasgoed nie meer op datum kom nie, want sodra die krag aan is, was almal.

Nog voor jy kan stryk, is die krag al weer af.

Ek het ‘n Jojo-tank gekoop vir die water wat tydig en ontydig sonder waarskuwing afgaan.

Ek praat nie eers van al die kos wat ons moet weggooi nie, soos hoender en vis.

As dit afgaan, beteken dit voedselvergiftiging.

Kersfees is op hande, jy kan nie ’n baksels deeg voorberei nie want jy weet nie of jy krag gaan hê om dit te bak nie.

Ek weet van mense wat van suurstof en nebolizers afhanklik is.

Hulle moet daarsonder klaar kom.

’n Gewone klein kragopwekker kan nie die toebehore trek nie.

’n Oom met ’n suurstoftenk was drie dae sonder suurstof.

Dit is ’n skande.

My hek sukkel al die hele week om oop en toe te gaan.

Ek het ’n nuwe battery gekoop, maar dit was nie die probleem nie, nou moet ek môre ’n ander kragboks gaan koop weens die krag wat die toerusting beskadig.

Mense, hoe ver moet dit nog gaan?

Ek hoor van baie mense wat hul huise in die mark wil sit.

Ek het al self vandeesweek so gevoel .

Maar hoekom moet ons trek ter wille van munisipale werkers wat nie hul werk doen nie?

Dit is agterlosigheid en swak dienslewering.

As jy mos sien daar kort ’n “trip switch”, hou vooraad.

Ons het van Maandag tot Donderdag sonder krag gesit, Michelle en Walter het toe agter die mense aangery.

Hulle het by elke kragboks gestop en hoe gerieflik, sit net die “trip switch” aan.

Moet dit vier dae neem voordat iemand net ’n knoppie kan druk?

Mense, kom ons staan saam, help die mense om hul taak te kan vergemaklik, want ons gaan nie verder kom as wat ons nou is nie.

As elke outjie net iets wil doen.

My buurman oorkant die pad het sy sloot wat in die pad voor sy erf oorspoel het, self met klippe toegemaak en reggemaak.

Michelle, Walter, Kobus, Candice en Heilene het voor die reën al die gate met grond toegegooi, maar dit is weer uitgespoel.

As ons nie gaan help nie, gaan niks gebeur nie.

Ek wou ook net my sê sê.

Ria Arrow, Bethal.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Ridge Times in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button