
Secunda Polisie, die sektorpolisiëringsforum op Secunda, Teksa Bloeddiens, Langamed en Curamus Slagoffersentrum het op Nasionale Vrouedag dit goed gedink om die vroue op Secunda te bederf en om werwing te doen.
Sasol se Ikusasa-projek het sjokolade geskenk wat aan die vroue uitgedeel is.
Secunda Polisie en die sektorpolisiëringsforum is na Secunda Mall waar ons die sjokolade begin uitdeel het.
Ons is egter deur sekuriteitswagte genader en gevra om nie daar handel te dryf nie.
Ek het aan die sekuriteitswagte verduidelik dat dit nie handeldryf was nie, maar dat ons die vroue vir Nasionale Vrouedag bederf.
Die sekuriteit het ons soos gemors behandel en ons laat verstaan ons is nie welkom in die Secunda Mall nie.
Die sentrumbestuurder is gekontak en ons is weer eens deur ’n vrou weggewys en is aangesê dat dit teen hul beleid is.
Nou vra ek julle, omdat ons nie daar welkom is nie wie gaan hulle skakel vir hulp as daar probleme is en hul sekuriteitswagte hardloop eerste weg?
Hoe kan ons deur ’n vrou weggewys word as ons die vroue op Nasionale Vrouedag wil bederf?
Dirkie Els, Secunda Polisie.
(Me. Marijke Smit van Secunda Mall se bestuurspan het gesê: “Ons is bewus van die gebeure. Ek kan jou verseker niemand is sleg behandel nie. Ons het hom net van ons beleid ingelig. Ons beleid is dat niemand enige materiaal op ons gronde mag uitdeel nie. Dit is vir verskeie redes, maar die belangrikste een is om ons kliênte se veiligheid te verseker.
“Niemand het die sentrum se bestuur in kennis gestel of toestemming gevra vir Saterdag nie.”)



