Môre is onseker…
Al die herinneringe, dink nou maar terug aan hoe jou eie kind uiteindelik sy eerste wankelrige treetjie gegee het, sy of haar eerste woordjie kon klank, of ’n mylpaal bereik het wat jou hart op daardie oomblik met trots gevul het... dan is dit nagenoeg onmoontlik om bloot te vergeet.

Ek lees vandag moeilik aan ’n berig: HTS Middelburg seun sterf terwyl hy vissies vang in vlak swembad, deur Daleen Naude van die Middelburg Observer.
Dit skud my tot in my fondasie, en ek aarsel om my emosies toe te laat om te voel of my gedagtes om te dwaal… want ek is self ’n pappa.
Sedert die dag wat my seuntjie die wêreld betree het, het ek geweet ek leef nie meer vir my nie, maar alles wat ek doen en elke besluit wat ek neem, is vir hom óf met hom in gedagte.
Dit is daarom bitter moeilik om my lewe sonder hom in te dink… hoeveel te meer nie vir ’n gesin vir wie dit nou ’n realiteit geword het nie.
Al die herinneringe, dink nou maar terug aan hoe jou eie kind uiteindelik sy eerste wankelrige treetjie gegee het, sy of haar eerste woordjie kon klank, of ’n mylpaal bereik het wat jou hart op daardie oomblik met trots gevul het… dan is dit nagenoeg onmoontlik om bloot te vergeet.
Ek kan my nie indink watter seer dié gesin moet ervaar nie, wanneer hulle saans, dalk voor hul gaan inkruip, by sy kamerdeur stilhou en met die wete moet worstel dat hy nie terugkom nie, wanneer Kersdag wink, maar die enigste geskenk wat hul sal opbeur, die teenwoordigheid van hul kind is… ’n geskenk wat geld nie kan koop nie.
Dit laat my opnuut nietig voel en ek besef maar net weer hoe tydelik alles is.
Hoewel die gesegde lui: “Jy leef net een keer,” wil ek verskil, jy leef nie net een keer nie, maar elke dag, jy sterf net een keer.
Dit is daarom dat ons elke dag as ons laaste moet beskou en in en vir die oomblik moet leef.
Sit jou verdomde slimfoon of tablet net ’n bietjie neer, skakel die televise vir ’n rukkie af en gee aan jou vrou/man en kinders of geliefdes jou tyd en aandag, want môre is onseker…