BETHAL – Bethal Bears Krieketklub het Saterdag, 1 Maart in eMalahleni (Witbank) tydens ’n wedstryd teen Connecto Krieketklub van hul kaptein George Plowman afskeid geneem.
Dit was ook die Bears se laaste ligawedstryd vir die 2013/2014 seisoen.
Plowman het besluit om sy kolf neer te lê na 15 jaar en 11 vol seisoene by Bethal Krieketklub.
Dit was ’n emosionele dag vir almal wat daar was en Plowman is met boodskappe van lede, oud-lede, vriende en spelers van ander klubs oorval.
Die Bears het die loot gewen en besluit om eerste te kolf.
Hulle het stadig met die kolf in die hand begin en was vroeg in die wedstryd al in die moeilikheid met drie vinnige paaltjies wat gekantel het.
Neil Parsons en Herman Booysen het egter goed terug geveg en die Bears in ’n beter posisie gekry.
Booysen het 25 lopies aangeteken voor hy sy paaltjie verloor het.
Gareth Wilkinsen het by Parsons aangesluit en hy het met 41 lopies die Bears in ’n goeie posisie geplaas om ’n mededingende getal lopies op te stel.
Parsons het 43 lopies aangeteken.
Bethal het hul kolfbeurt op 191 lopies geëindig.
Na ete het Connecto ingegaan om te kolf en hulle het gedurig paaltjies verloor wat dit laat lyk het of Bethal sou wen.
Die weer het egter begin opsteek wat Bethal in ’n slegte posisie geplaas het, want Connecto moes net op ’n beter lopie tempo as Bethal eindig om te wen.
Connecto se kolwers het positief begin kolf en dit het gelyk of hulle die wedstryd sou wen as dit sou begin reën het.
Bethal het egter met goeie veldwerk en vangskote al die Connecto kolwers uitgeboul en sodoende die wedstryd met 86 lopies gewen.
Bethal se beste boulers was Siyabonga Mtsweni met drie paaltjies, Lungelo Mtshalki met twee paaltjies en Plowman met twee paaltjies.
Dit was ook gepas dat Plowman in sy laaste wedstryd vir die klub die vangskoot van die seisoen gevat het om die wedstryd te wen en daarmee sy klubloopbaan te eindig.
“Dit was n skitterende vangskoot en ’n wonderlikke oomblik vir George om sy laaste wedstryd vir die klub so te eindig”, het Jean Greyling onder-kaptein, gesê.



