Puss & Boots-span presteer
Organiseerder nooi belangstellendes na binnenshuise netballiga op Secunda.
SECUNDA – Die Puss & Boots-span het as wenners uit die stryd getree in hul wedstryd teen die Stingers toe hulle dié span met ’n telling van 61-16 in die binnenshuise netballiga by Lake Umuzi geklop het.
Dié twee spanne het Woensdag, 9 April kragte gemeet en die Sublime-span en die Aftershock-span het Vrydag, 11 April teen mekaar meegeding en die Sublime-span het die wedstryd met ’n telling van 46-24 gewen.
Die Sapphires en die Underdogs het ook Vrydag, 11 April kragte gemeet en die Underdogs het die wedstryd met ’n telling van 36-15 gewen.
Die liga duur vandeesweek voort en die Sapphires en die Sublime-span het Maandag, 14 April teen mekaar gespeel en die Underdogs en die Discho Ninja’s ding Woensdag, 16 April teen mekaar mee.
Die huidige binnenshuise netballiga sluit op 10 Mei af en die nuwe liga begin op 26 Mei en die sluitingsdatum om spanne vir die nuwe liga in te skryf, is 17 Mei.
Me. Adelle Grové wat dié binnenshuie netballiga gereël het, reël ’n Fast Five Netballiga wat vanaf 12 tot 16 Mei by Lake Umuzi plaasvind.
Inskrywingsgeld is R120 per span en die sluitingsdatum vir inskrywings is 2 Mei.
Belangstellendes kan spanne van vyf spelers per span inskryf.
Vir meer inligting, skakel me. Grové by 072 262 4634.



