BETHAL – Carinlizé Muller, ’n leerling van Laerskool H.M. Swart, neem aan verskeie aktiwiteite deel, maar as dit by perdry kom, blink sy uit.
Sy het op die ouderdom van vyf jaar oud haar ouers aanhoudend gevra om net een keer op een van hul perde te ry, en die koeël was deur die kerk.
Carinlizé neem al vanaf die ouderdom van sewe aan jaarlikse kompetisies deel en het ’n tweede plek tydens haar eerste kompetisie behaal.
Volgens Carinlizé moet jy net by ’n perdeskool aansluit om al die ekstra toertjies te leer.
“Perdry is die naaste wat jy aan vlieg sal kom,” het Carinlizé gesê.
Sy het twee perde, naamlik Cyrus en Sterretjie.
Sy spring met Cyrus en dresseer met Sterretjie.
“Spring en Dresseer het baie oefening nodig,” het sy gesê.
Carinlizé wil in die toekoms aan groter kompetisies deelneem en beter presteer.
Haar afrigter, me. Sonja Greyling, is haar inspirasie en sy het haar afrigter vir al die hulp en ondersteuning bedank.
“Die band tussen my en my perde is onbreekbaar en ons is deel van ’n span,” het Carinlizé gesê.
Perdry gaan oor jou postuur, want jy ry in jou bolyf en hou balans met jou skouers.
“Sy het ’n goeie hart, presteer goed op skool en maak haar ouers trots,” het haar ma, Mariska Muller, gesê.



