Local sportSport

Brawe vroue doen valskermspronge

Toe sy die grond getref het, was haar eerste woorde: “ Ek wil weer, ek wil weer.”

As dit nie vir my twee vriendinne, Hannelie de Jager (Echo/Ridge-advertensieverteenwoordiger) en Hanlie van der Merwe was nie, sou ek beslis nie Saterdag, 7 Junie ’n tandemvalskermsprong gedoen het nie.

Vir hulle was dit iets wat hulle al lankal wou doen en hulle het my ook al die afgelope twee jaar of so gevra wanneer ons gaan spring.

So het dit gebeur dat ons drie en nog ’n paar ander vriende, asook familie vir morele ondersteuning dié dag vroeg reeds by Witbank Vliegveld aangemeld het.

Hanlie was deel van die eerste groep wat gespring het en ek het aansienlik beter gevoel nadat ek hulle veilig sien land het.

Ons het lekker gelag toe Hanlie met ’n kuif wat soos Ace Ventura s’n gelyk het, opgewonde danspassies uitgevoer het nadat sy haar sprong suksesvol voltooi het.

Dit het egter nie gekeer dat ek steeds gevoel het soos ’n lam wat slagpale toe gelei word toe dit my en Hannelie se beurt was nie.

Ons onderskeie instrukteurs het vir ons harnasse begin aansit en Hannelie het, soos haar geaardheid is, gelag en grappies gemaak.

Die vliegtuig het gewag en ons het soos sardientjies in ’n visblik in die vliegtuig gesit vir ’n 20 minute vliegrit.

Ek het reg langs die deur gesit en die spanning in my het opgebou toe die deur reg langs my oopgegaan het en dit tyd was om te spring.

Ek was die bangste van ons groep, maar moes eerste spring!

Die kameraman was vir my die grootste waaghals van die dag en gaan eerste uit die vliegtuig uit en hang dan buite en wag vir ons om te spring, waarna hy dan ook spring en foto’s van ons neem.

Ek was só bang toe ek met my voete oor die vliegtuig se rand moes sit, dat ek nie eers die “count down” gehoor of gesien het nie.

Toe ek weer sien, toe val ons.

My gesig het blykbaar boekdele gespreek gedurende die val en ek was die grap van die jaar toe almal later na die tyd na my DVD gekyk het.

Ek het eers later op my DVD gesien dat my instrukteur my arms gedurende die vryval, wat vanaf 10 000 voet tot 5 000 is, probeer oopmaak het.

Ek het net verbete aan die bande om my skouers geklou en wou niks weet van arms oopmaak nie.

Na die vryval het hy uiteindlik die valskerm oopgemaak en ek het ’n sug van verligting geslaag hoewel dit egter steeds angswekkend so hoog bo die grond met niks onder my voete, was.

My instrukteur het my die voorreg gegee om ook die valskerm ’n bietjie te beheer, maar ek het hom meer vertrou met dit en dus vinnig die leisels vir hom teruggegee.

Die landing was nog ’n grap en vermaak vir almal, ek het soos ’n platanna bly lê van verligting nadat ons geland het.

Hannelie se DVD spreek boekdele oor hoe baie sy dit geniet het.

Dit is immers iets wat sy al vir 10 jaar wou doen.

Sy het dit vir haar broer, mnr. Kobus de Jagter wat 10 jaar gelede dood is, gedoen.

Hulle sou dit saam doen.

Toe sy die grond getref het, was haar eerste woorde: “ Ek wil weer, ek wil weer.”

Dit was aan die einde van die dag vir ons albei ’n lekker ondervinding en ons sal dit beslis weer doen.

By die koerant is daar nie tyd vir stilsit nie en ek en Hannelie beplan reeds ons volgende avontuur, dié keer in die water.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Ridge Times in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button