4×4-geesdriftiges geniet uitstappie
Sluit by Secunda 4x4-klub aan en geniet uitstappies.
SECUNDA – Lede van die plaaslike 4×4 klub het verlede naweek ’n uitstappie na die Val Hotel en omgewing geniet.
“Die meeste van ons was nie eers bewus van die ryk geskiedenis hier in ons eie gebied nie,” het mnr. Piet Potgieter, lid van dié klub, gesê.
Dié 4×4-geesdriftiges het Saterdag die brug wat as die Whiskey Train bekend staan, gaan besoek waar me. Rita Britz vertel het dat ’n klomp boere die trein opgeblaas het en toe ontdek het dat daar eetgoed op die trein was.
Boere en Britte het toe ten spyte van die oorlog, glo saam fees gevier.
Na dié stukkie geskiedenis moes lede ’n spruit oorsteek en is die mans sowel as vroue se vernuf agter die stuur van hul 4x4s getoets.
Skuilkrans was volgende op die lysie en mnr. Ludwig Ankiewiez het lede oor dié skuilplek se geskiedenis ingelig.
Plaaslike boere het glo hul waens en meubels by Skuilkrans weggesteek tydens die Vryheidsoorlog wat vanaf 1899 tot 1902 geduur het.
Die Engelse het later van dié skuilplek uitgevind en al die waens is vernietig en vroue en kinders is na konsentrasiekampe geneem.
Lede het ’n vuur gemaak, vleis gebraai en na ete spookstories vertel.
Belangstellendes is welkom om by die Secunda 4×4-klub in te skakel.
Vir meer inligting, skakel mnre. Rudi van der Merwe by 082 880 8020 of Cobus Mouton by 076 979 7857.



