Local sportSport

Twee gholfspelers geskors na tugverhoor

Derde speler daag nie op vir tugverhoor.

Twee lede van Bethal Gholfklub is Saterdag vir twee maande geskors omdat hulle nie hul liga-tellingkaarte binne die toegelate 72 uur in die voorgeestelsel ingelees het nie.

Mnre. Tobie Oosthuizen en Willem du Plooy se skorsing is terugwerkend na 27 Februarie, wat beteken dat hulle tot 27 April van alle gholf geskors is.

Hulle het ’n maand “afslag” gekry omdat die klub se krag af was.

’n Derde lid van Bethal wat ook Saterdag die dissiplinêre verhoor moes bywoon, mnr. Frans Cronjé, het nie opgedaag nie.

Die tugverhoor het gevolg nadat ’n lid van Standerton Gholfklub amptelik by die Hoëveld Gholfvereniging gekla het dat drie van Bethal se spelers nie hul tellings van die ligawedstryd binne die toegelate 72 uur ingelees het nie.

Mnre. Oosthuizen en Du Plooy se tellings is eers vyf dae na die ligawedstryd deur die voorgeekomitee van Bethal Gholfklub ingelees.

Die drie spelers is daarop summier vir drie maande deur die gholfvereniging geskors, maar nadat mnre. Oosthuizen en Du Plooy ’n brief aan die vereniging gestuur het waarin hulle hulle beskuldig het dat hulle nie volgens die Suid-Afrikaanse Gholfunie se dissiplinêre kode opgetree het nie, is daar besluit om ’n tugverhoor te hou.

Volgens mnr. Oosthuizen het die tugkomitee bly hamer dat die onus op die speler berus om seker te maak dat sy telling ingelees is.

Volgens die voorgeereëls van die Suid-Afrikaanse Gholfunie, kan die voorgees op drie manier ingelees word:

* Die speler se tuisklub lees die telling in die stelsel.

* Lees die telling in op die webtuiste van die voorgeestelsel.

* Lees die telling in op ’n selfoon indien die persoon die applikasie (app) op sy foon geïnstalleer het.

Volgens mnr. Oosthuizen het hulle volgens die tugkomitee ligareëls oortree, maar hulle word van alle gholf in die hele land weerhou.

“Ek dink dit is onregverdig, ons het volgens hulle ’n ligareël oortree, hoekom word ons nou van alle gholf landwyd geskors?”

Mnr. Oosthuzen het aan Ridge Times gesê dat hulle nie gaan appelleer teen hul skuldigbevinding nie.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Ridge Times in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button