Johann kwalifiseer vir Suid-Afrikaanse kampioenskap
“Jy hoef nie steroïedes te gebruik om spiere te bou en sterk te word nie.”
SECUNDA – Mnr. Johann de Bruin, (26) het sedert hy kan onthou, in gewigoptel belanggestel.
Hy speel al vir agt jaar vir Sasol Rugbyklub, maar wil van nou af op gewigoptel fokus.
“Ek het al op skool in die gimnasium begin oefen om vir rugby sterk te word en het later agtergekom dat ek swaarder gewigte as ander van my ouderdom kon optel.
“Ek het ook gesien dat daar ’n sportsoort is wat ‘power lifting’ genoem word,” het mnr. De Bruin verduidelik.
Hy het eers vanjaar daaraan begin deelneem en reeds in Mei by die Arnold-kompetisie goud in sy gewigklas verwerf.
Hy neem in die 105kg-gewigklas deel.
Daar is drie katogorieë waarvolgens hulle beoordeel word, naamlik die dooie gewig lig, “bench press” en “squad”.
Die hoeveelheid gewig wat elke individie opgetel het, word bymekaar getel en so word die wenner bepaal.
“Ek moet vyf ure in ’n week in die gimnasium oefen en ’n eetplan volg om my gewig reg te hou.
“Dit is my grootste droom om aan die wêreldkampioenskap deel te neem.
“Ek hou ook daarvan om fiets te ry en te draf.
“My eerste doelwit is nou om vir die Suid-Afrikaanse kampioenskap te kwalifiseer en daarna wil ek ’n skeidregterkursus doen.
“Oor 10 jaar sal ek graag my eie ‘power lifting’-klub gestig wil hê en ander ook leer hoe om dié sport veilig te beoefen.
“My ideaal is om ’n afrigter en skeidsregter te wees,” het mnr. De Bruin vertel.
Hy het op 27 Augustus aan die Gauteng-kampioenskap deelgeneem waartydens hy sy gewigsklas gewen het en vir die Suid-Afrikaanse kampioenskap gekwalifiseer het.
“Ek wil graag ander atlete bewus maak van dié unieke sportsoort.
“Daar is nie tans ’n klub in Mpumalanga nie en ek sal graag een wil begin.
“Dit is ook om vir mense te wys dat jy nie steroïedes hoef te gebruik om spiere te bou en sterk te word nie.
“Ons word gereeld vir steroïedes getoets en hulle is baie streng daarop,” het mnr. De Bruin gesê.
Hy hoop om tydens die Suid-Afrikaanse kampioenskap ten minste ’n silwermedalje te wen.




