Secunda-spelers hou rolbalklub se naam hoog
Vier plaaslike spelers is aangewys as die mans en vroue parewenners by die Hoëveld Rolbal Parekampioenskap.
SECUNDA – Die Hoëveld Pare Rolbalkampioenskap is die afgelope naweek by die Sasol Rolbalklub gehou.
Spanne van Ermelo, Secunda en Standerton het deelgeneem om die streek se top mans en vroue parekampioene vas te stel.
Die eer het op die ou einde vier Secunda-spelers toegekom en die spanne van Anette van Ryneveld en Patrys Becker en Gustav Kruger en Lanie Nel het die kampioenskap gewen.
Patrys en Anette het reeds Saterdag klaar gespeel omdat minder vrouespanne ingeskryf het, maar die klas van rolbal wat dié spelers gespeel het, was van uitsonderlike gehalte.
Volgens Patrys was dit ’n lekker dag met strawwe kompetisie en mooi rolbal.
Hulle het in die eindstryd teen Rina Gibhard en Kotie van der Sandt gespeel wat tweede geëindig het.
Gustav en Lanie het hul sesde wedstryd, wat die eindstryd was was, eers Sondag gespeel teen die broers Marius en Johan (Lappies) Labuschagne en dié wedstryd gewen met 25 punte teenoor 15.
“Dit was nie maklik nie, maar ons het bo uitgekom, dis hoe ons rol,” was Lanie se kommentaar op die kampioenskap.
Die volgende stap vir die twee spanne is om by die Mpumalanga Provinsiale Uitspele deel te neem wat op 4 en 5 Maart op Ermelo plaasvind.
Daar sal die twee top mans- en vrouespanne van die Hoëveld en die drie top mans- en vrouespanne van Sentraal en Laeveld elk teen mekaar meeding vir die titels van provinsiale kampioene.







