Local sportSport

Sasol Sewesspan dra trofee op aan beseerde spanmaat

Die Sasol Hydra-Arc Rugbyspan het drie spanne vir die Hoëveld 7’s-toernooi ingeskryf en tree as provinsiale oorwinnaars uit die stryd.

SECUNDA – Die Sasol Hydra-Arc Rugbyspan het weer Secunda se naam hooggehou.

Hulle het onlangs aan ’n 7’s rugbyreeks deelgeneem en die eerste span het Saterdag, 18 Februarie as provinsiale kampioene uit die stryd getree.

Die reeks het uit twee toernooie bestaan, met die Hoëveld 7’s-toernooi wat op 11 Februarie plaasgevind het en die volgende ronde, die provinsiale Puma 7’s-toernooi, wat in Mbombela (Nelspruit) gespeel is.

Die tweede span was vierde in die Hoëveld en het ook deurgedring na die Puma 7’s in Mbombela.

Die derde span was sesde in die Hoëveld en het dit net-net nie na die volgende ronde gemaak nie.

Die eerste span is die wenners van die Hoëveldtoernooi en het saam met die tweede span deurgedring na die Puma 7’s later in die week.

Tydens die Puma 7’s reeks, was die tweede span algeheel sesde in Mpumalanga en die eerste span is as provinsiale wenners aangewys.

Die eerste span het hul pad oopgeveg na die eindstryd toe hulle Barberton 43-0 geklop het en daarna kortemette van Lydenburg met 17-10 gemaak het.

Hulle het teen Nelspruit, die Laeveld-kampioene, in die eindronde te staan gekom en hul beste wedstryd van die reeks gespeel om die teenstanders 17-0 te klop.

Stanley Dodd, wat onlangs by die klub aangesluit het en ’n 7’s-rugbyspesialis is, het ’n groot impak gemaak, saam met Werner Joubert, die hoofafrigter van Sasol Rugbyklub.

Een van die eerste span se spelers. Lourens Basson, het ’n swaar prys vir sy span se oorwinning betaal en drie frakture aan sy wangbeen opgedoen.

Volgens me. Mariëtte Kruger, een van die spanbestuurders, wil hulle graag die Puma’s se trofee aan hom opdra.

“Ons is baie trots op ons manne, maar ons harte is baie seer oor een van ons beste spelers wat beseer is en tans in Wilgers Hospitaal aansterk.

“Ons vra dat almal vir Lourens in hul gebede sal opdra vir volkome genesing.”

Daar is verskeie nuwe spelers wat by Sasol Rugbyklub aangesluit het en daar is ook jong spelers van die 2015- en 2016-matriekklasse wat saam met die klub oefen.

Volgens Joubert wag daar groot dinge vir die klub in die volgende seisoen.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Ridge Times in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button