Local sportSport

Keaton van Secunda Rolbalklub se loopbaan lyk blink

Seun speel nog nie lank rolbal nie, maar hy geniet die sport en is onlangs in die provinsiale span opgeneem.

BETHAL – Keaton Erasmus (15) speel nog net vir ’n paar seisoene rolbal, maar is reeds een van die beste jong spelers in die provinsie en is die skip van die Mpumalanga 0/15-span.

Rolbal is beslis nie ’n gewone sport vir ’n tienerseun nie en hy is deur sy pa aan dié opwindende sport blootgestel.

Hy het bykans twee jaar gelede een aand begin rolbal speel.

“My pa het aandliga op Middelburg gespeel en een van sy spanmaats was siek.

“Met my pa se motivering, het ek begin speel en toe hy sy enkel ’n paar weke later gebreek het, het ek weer ingestaan en op die ou einde nogal baie gespeel.”

Keaton lag as hy terugdink aan die eerste keer wat hy gespeel het.

“Mens speel nooit die eerste keer goed nie, maar dit was steeds lekker.”

Keaton kom uit ’n sportiewe familie en speel ook hokkie en krieket vir Hoërskool Hoogenhout waar hy ’n gr. 10 leerder is.

Toe daardie seisoen se aanliga verby is, het hy gekies om met rolbal aan te gaan.

Hy het begin oefen en het ook afrigting gekry en hy is kort daarna raakgesien en genooi om provinsiale proewe vir die Mpumalanga-spanne te speel.

Hy is lid van Middelburg Buiteklub, Middelburg Stadion en Bethal Rolbalklub wat hopelik binne die volgende paar weke weer hul deure gaan oopmaak.

Sy mentor is Max van der Westhuizen van MCC, en sy afrigter is Jerry Gertzen.

Keaton het eers vir die 0/19-span gespeel omdat daar nie ’n 0/15-span was nie, maar nou kry hy die geleentheid om in sy eie ouderdom deel te neem en hy sien uit na wat die nuwe seisoen inhou.

“In April gaan ons 0/15-span aan die nasionale uitspele in Bloemfontein deelneem, waar ons teen al die ander provinsiale spanne gaan deelneem.”

Keaton weet daar lê nog ’n lang en moeilik pad vir hom voor, maar hy is reg vir die harde werk en hou veral van rolbal omdat dit so ’n tegniese sport is.

“Jy moet elke oomblik kophou en sorg dat jy presies weet watter soort spel jy moet speel.”

Keaton vind ook inspirasie in nasionale en internasionlae rolbalspelers en reik uit na sy rolmodelle op sosiale media.

“Ek volg ’n goeie internasionale speler op Facebook en kort voor een van my groot enkelwedstryde, het ek met hom gepraat en gehoor of hy nie vir my raad het nie.

“Hy het my geantwoord en ’n klomp goeie wenke gegee vir wat ek moet doen as ek voorloop en hoe ek moet terugveg as ek agter is.”

Hy het dié raad ter harte geneem en die kampioenskap gewen.

Keaton geniet dit om buitengewone dinge te doen en droom daarvan om eendag argeologie te gaan studeer.

“Ek sal enige iets doen, solank ek net nie elke dag in dieselfde kantoor hoef te sit nie.

“Ek is mal oor avontuur en die natuur en sal graag die wêreld wil sien en nuwe mense en kulture waarneem.”

Met sy ouers se ondersteuning en sy eie deursettingsvermoë, lyk sy toekoms blink en Keaton is goed op pad om die toppunt van sy sport te bereik.

 

For free daily local news in the south, visit our sister newspapers Highvelder, Standerton Advertiser

For more news and interesting articles, like us on Facebook, and follow us on Twitter and Instagram

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Ridge Times in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button