Sasol Hydra-Arc se rugbyspanne bederf met spogrugby
In hul tweede vriendskaplike wedstryd van die jaar, wys Sasol Hydra Arc se eerstespan weer waarvan hulle gemaak is.
SECUNDA – Sasol Hydra-Arc Rugbyklub se eerstespan het die afgelope naweek hul tweede wedstryd van die seisoen gespeel en met ’n eindtelling van 101-5 is dit duidelik dat dié span vanjaar nie op hulle gaan laat wag nie.
Hul eerste tuiswedstryd teen Boksburg se eerstespan, was die perfekte geleentheid vir die spelers om te wys waartoe hulle in staat is.
Met 15 drieë deur agt spelers en 11 verdoelings, is dit duidelik dat dié span propvol talent is.
Die afrigters en bestuur se fokus op fiksheid het gemaak dat die manne in blou sommer vinnig sirkels om hul teenstanders begin hardloop het.
Die puntemakers vir die eerstespan was Pieter (Stretch) Streicher en Erik de Vos met drie drieë elk, Berty Visser, Righ Potgieter en Shaun Jacobs wat twee drieë elk aangeteken het en Izan Green, Ruan van der Colf en Willem Martin wat elkeen een drie gedruk het.
Steven Jacobs het telkemale gewys hy het sy skopskoene aan en het agt van die 15 drieë verdoel, terwyl Wessel Booysen twee keer oorgeskop het en sy broer Fanie een keer ’n drie verdoel het.
’n Speler wat meer as een keer goeie ondersteunende spel gelewer het en sy spanmaats in staat gestel het om dit oor die doellyn te maak, was Juan (Shrek) Kotze wat keer op keer deur Boksburg se verdediging gebreek het en nie suinig met die bal was nie.
Hy is ook as die speler van die wedstryd aangewys.
Teen rustyd het die telling op 47-5 in die tuisspan se guns gestaan.
Met die terugkeer na die veld vir die tweede helfte, het die manne in blou gewys dat hulle nie op hul louere gaan rus nie en het gebruik gemaak van lynstane om die bal gereeld te onderskep.
Volgens Werner Joubert, een van die afrigters van die eerstespan wat ook ’n speler by die klub is, is die span opgewonde oor hul vooruitsigte vir die seisoen.
“Dié seisoen is ons reg vir groot dinge, hou ons dop!”
Die derdespan, wat ook Saterdag teen Hoëveld 2 gespeel het, het met ’n eindtelling van 74-33 gewys dat die talent van Sasol Hydra-Arc Rugbyklub diep lê en dat die ondersteunende spanne net so gefokus is op goeie rugby vir die seisoen.
Met 12 drieë teenoor 5 en sewe verdoelings, het hul teenstanders nie ’n kans gestaan nie.
Die puntemakers vir die derdespan was Jacobus Beyleveldt met drie drieë, Elardus Greef met twee en Sanele (Dawg) Dlamini, Sphelo Jama, Jonathan Swart, Rossouw (Wheels) Wheeler, Neels Els, Cameron Matthys en Hancu Nel met een drie elk.
Johan Brits het ses van die drieë verdoel en Rossouw Wheeler een.
Sasol Hydra-Arc se eerste- en tweedespanne speel wegwedstryde eerskomende naweek en die derdespan speel tuis teen Carolina.








