Brümilda Mostert saal nie die verkeerde perd op nie
“Dit was wonderlik om langs die baan te kon staan en kyk hoe Brümilda en Carmelina presteer.”
Brümilda Mostert, ‘n gr. 8-leerling van Hoërskool Standerton, het onlangs saam met haar ma, Melanie Pieterse, aan die Secunda Landbouskou deelgeneem waar die jong ruiter puik presteer en stof in haar ma se oë geskop het.
Brümilda kan ook spog met onder meer toekennings by twee ander kampioenskappe, twee reserwe-kampioenskappe en ander plasings.
Sy het Mighty Quantum asook Jack Sparrow in die inhandklasse vertoon en Jack Sparrow is as Reserwe Kampioen in sy klas aangewys.
Carmelina, wat besit word deur Brümilda, is in die Senior Merrie-, Plesierperd Merrie-, asook Beste Ryperd-klas deur Brümilda vertoon. Carmelina is as Reserwe Kampioen Plesierperd aangewys en Brümilda as Kampioen Kinderruiter.
Tot almal se vreugde is Carmelina ook genomineer as ‘n finalis vir Die Perd van die Skou.
Jack Sparrow, wat besit word deur Melanie, het ‘n tweede plek in die Oop 3-gang Reun-klas behaal.



