Lanie Nel van Secunda Rolbalklub glo harde werk laat jou uitblink
Lanie Nel glo dat die sleutel tot sukses harde werk en passie is, Hy speel nog nie lank rolbal nie en is alreeds opgeneem in die Mpumalanga provinsiale span.

Mnr. Lanie Nel speel nog nie twee jaar rolbal nie, maar het al vir homself naam gemaak as een van die provinsie se beste spelers.
Hy het vir die eerste keer rolbal gespeel toe hy by ’n sportklub in Mbombela was.
“Ek het van die klubhuis af gestap en het twee vroue op die rolbalbaan langs die klubhuis gesien het. Hulle het met my begin praat en gevra of ek nie net vir die lekker wou probeer speel nie. Hulle het vinnig verduidelik hoe die spel werk en hoe die bal se gewiggies hom laat draai.
“Een van die vroue het vir my gesê ek moet die bal op die witte neersit, toe doen ek dit. Hulle was stomgeslaan en kon nie glo dat hy nog nooit rolbal gespeel het nie.
’n Paar jaar later het hy en sy gesin na Secunda verhuis en hy het by die Secunda Rolbalklub aangesluit.
Kompetisies en titels
Mnr. Nel het in Mei 2015 sosiaal begin rolbal speel, maar teen Maart 2016 het hy die Secunda-klub se beginnerkompetisie gewen. Hy het daarna meer ervare spelers uitgestof en is as die klub se enkelskampioen aangewys.
Dit was die eerste keer in 20 jaar dat dié twee titels deur dieselfde speler verower is.
Ander titles sluit in die Hoëveld Champ of Champs, die klubpare, die Hoëveld Trips, die Hoëveld-enkels en die Hoëveld-pare.
Mnr. Nel het ook aan die Mpumalanga-parekompetisie deelgeneem waartydens sy span tweede gekom het. Hy het daarna ook die Hoëveld gemengde pare-kompetisie saam met ’n ander speler van Secunda, Kotie van der Sandt, gewen.
Hy is in September verlede jaar na die provinsiale proewe genooi en is in die provinsiale span opgeneem.
“Ons span het in Maart aan die SA provinsiale kompetisie deelgeneem en al het ons nie gewen nie, het ons baie geleer en gemotiveerd teruggekom.”
“Ek probeer ’n punt daarvan maak om soveel as moontlik te oefen en speel graag sosiale wedstryde teen ander klublede.
Mnr. Nel geniet veral die tegniese aspekte van rolbal en lees graag op oor die nuutste verwikkelinge in die sport.
Volgens hom is rolbal lankal nie meer ’n sport vir net ouer mense nie en hy wil graag sien dat meer jongmense betrokke raak.
Mnr. Nel se raad aan jong spelers is eenvoudig: bly passievol en nederig, hou aan oefen en moet nooit dink jy kan niks meer leer nie.
Vir meer nuus besoek gerus ons ander webblaaie.
Standerton Advertiser & Highvelder
”Like” ons op Facebook en volg ons op Twitter en Instagram.



