Corrie lei weer Sasol Ringbalklub se komitee
Nie lank ná Potgieter vir Sasol begin ringbal (destyds korfbal genoem) speel het nie, is hy gekies om vir die klub se A-span in die klubtoernooi uit te draf.
Corrie Potgieter (62), ‘n groot gees in die nasionale ringbalkringe, is onlangs weer as die voorsitter van die Sasol Ringbalklub verkies.
Hy het ook voorheen vir twee afsonderlike termyne as voorsitter gedien.
Potgieter en sy familie is sinoniem met ringbal. Sy drie seuns, Jaco, Dirk en Willie, het almal ringbal gespeel. Willie is die uittredende klubvoorsitter.
Die seuns het langs die ringbalbane grootgeword en die kleinkinders volg in dié tradisie. Een van die kleinseuns, Corne (11), is ‘n provinsiale speler.
Potgieter het dekades gelede ‘n onbeplande ontmoeting met ringbal gehad en sedertdien is hy verknog aan dié sport. Hy is tans die nasionale skoleskeidregter en afrigter.
Potgieter het op Potgietersrus grootgeword en sy vrou, Ansa, daar ontmoet. Hy en haar neef het destyds saam aan stokmotorwedrenne deelgeneem.
Toe die Potgieters in 1978 na Secunda verhuis het, het hy as haker vir die Sasol Rugbyspan uitgedraf, maar ‘n paar jaar later het ‘n nekbesering hom genoop om rugby te los.
“Ek was daardie dag baie ongelukkig en het gaan kyk hoe Ansa ringbal speel. Hulle het my op die baan genooi. Ek het eers gedink dis ‘n sagte spel vir vroue, maar eers toe ek begin speel het, het ek die teendeel besef. Die mans speel hard en skroom nie om mekaar te karnuffel nie.”
Nie lank ná Potgieter vir Sasol begin ringbal (destyds korfbal genoem) speel het nie, is hy gekies om vir die klub se A-span in die klubtoernooi uit te draf.
Potgieter is ‘n doelskieter en het in 1990 as doel vir die provinsiale span gespeel.
Hy het ook as skeidsregter opgang gemaak.
Die Potgieter-egpaar is betrokke by SA-skoleringbal. Hy dien vir die afgelope 15 jaar as voorsitter van die Suid-Afrikaanse Skoleskeidsregtersvereninging en Ansa is sy sekretaris.
Die hoogtepunt van Potgieter se ringballewe is waarskynlik toe hy in 2014 die Suid-Afrikaanse skolespan na Mauritius geneem het vir die eerste amptelike ringbaltoets in 19 jaar. Potgieter is die volgende jaar vereer as een van die land se top nasionale skeidsregters.
Hy speel self ook in die Suid-Afrikaanse Meestersspan en is die span se afrigter en bestuurder.
Die Potgieter-egpaar woon tans in eMalahleni (Witbank), maar ry Maandae en Donderdae na Secunda om die afrigting by te woon, asook oor naweke wanneer wedstryde plaasvind.
“My hart klop vir Sasol,” het Potgieter verduidelik.
Wanneer hy nie op Secunda kan wees nie, staan sy ondervoorsitter, mnr. André van Wyk, en die komitee vir hom in.
“Ek sal nie omgee om eendag my laaste asem op die ringbalbaan uit te blaas nie,” het Potgieter verduidelik oor hoe lief hy vir die sport is.



