Adrenalienverslaafde van Secunda bemeester nuwe toertjie op FMX-motorfiets
Motorfietsryer wil FMX-baan op Secunda bou.
Rudolf Pretorius (27) het eers op 17 begin motorfiets ry en het al verskeie operasies aan sy knieë en enkels ondergaan, maar dit keer hom nie om aan FMX- (freestyle motocross) motorfietsry deel te neem nie.
FMX is ’n gevaarlike sport en daar is min professionele FMX-ryers in Suid-Afrika.
Pretorius het beplan om in Desember verlede jaar die volgende groot en gevaarlike stap in FMX te neem om vir die eerste keer ’n bollemakiesie agterstevoor te doen.
Hy het dié groot stap egter eers in Januarie geneem.
“Ek het dit nog net in die skuimgat gedoen, nog nie op die baan met grond nie,” het Pretorius gesê.
Hy kon dit nie die eerste probeerslag deurvoer nie.
Die tweede keer het hy van sy motorfiets afgeval, maar ná die sewende probeerslag het hy dit reggekry, asook om ’n draaibeweging te maak wat ’n mens glo nie maklik regkry nie.

Pretorius werk voltyds by sy onderneming, ’n laboratorium wat gehaltebeheer doen, en beoefen die FMX deeltyds.
Hy ry soms soggens voor werk vir sowat 30 minute.
Sy droom is om ’n FMX-baan op Secunda te bou om dié sport te bevorder. Daar is tans net ’n handjievol bane in Suid-Afrika.
Pretorius het ook al ander motorfietssportsoorte beoefen, asook gemengde gevegskuns en watersport.
Die Redbull FMX professionele motorfietsryer Nick de Wit, is Pretorius se rolmodel en hy het al verskeie oefensessies en skoue saam met hom gedoen.
Pretorius sal graag FMX voltyds wil beoefen, maar hy reken dit sal hom bykans ’n jaar neem om op die vlak te kom om ’n voltydse professionele FMX-motorfietsryer te wees.

Hy het Donderdag, 8 Maart nog ’n operasie op sy knie ondergaan en dit gaan hom sowat ses tot agt maande buite aksie plaas.
Hy beplan om nuwe hoogtes te bereik in dié sport en as hy herstel het, wil hy die bollemakiesie agterstevoor op die grondbaan en nie meer in die skuimgat doen nie.
“Die laaste paar kere dat ek dit gedoen het, het ek baie selfvertroue gekry. ’n Mens weet net die dag as jy reg is om ’n nuwe, moeilike toertjie te doen.”
Pretorius het die bollemakiesie op 16m gedoen. Professionele ryers doen dit op 21m.
Hy sal graag eendag internasionaal FMX-vertonings wil doen.



